Draer van goeie nuus - 'n Dogtertjie - 20 Augustus 2015
Carina Francke
Mensehandel is seker een van die grootste onregte wat teenoor mense gepleeg word. Die slagoffers word van hul vryheid, bekende omgewing en eie mense weggeruk om in vreemde en dikwels haglike omstandighede net te bestaan. Volgens Nicolas Kristof, medeskrywer van die boek Half the Sky, is moderne vroulike slawerny so 'n moreel laakbare bedryf, dat dit verwant is aan die Afrika slawehandel van die 18e en 19e eeu.
In die antieke beskawing was slawerny 'n algemene (wan)gebruik onder volkere, daarom is die verhaal van 'n klein dogtertjie wat uit haar land weggevoer is en in diens van die hoof van die Aramese leër se vrou gekom het, so merkwaardig (2 Konings 5).
Die melaatsheid van Naäman, haar meesteres se man, het hierdie jong kind aangegryp:
"Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaria is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem" (2 Konings 5:3). Naäman vertrek onmiddellik na Israel met die goedkeuring van sy koning, om hierdie man wat hom kan genees, op te spoor. Die opdrag van die profeet is eenvoudig - hy moet sewe keer in die Jordaanrivier was - 'n baie teleurstellende en vernederende opdrag vir Naäman. Hy weier om dit te doen, maar sy dienaars oortuig hom om dit tog maar te doen. Na die sewende onderduik, is die resultaat presies soos die profeet gesê het - "sy vlees het teruggekeer soos die vlees van 'n jong seun, en hy het rein geword" (v10,14). Die gevolg? Hy kom so geweldig onder die indruk van die God van Elisa, dat hy in Hom glo en onderneem om voortaan net brand- en slagoffers aan die Here te bring (v17).
'n Klein dogtertjie, wat alle rede gehad het om in sak en as te leef oor haar omstandighede, word die draer van die goeie nuus van redding en genesing! In die huis van haar vyand wys sy hoe geloof lyk; hoe dit lyk as jy in gesonde verhoudinge met selfs jou gevangenemer kan leef. Dit kon net moontlik wees omdat sy Elisa se God geken het - die God van die onmoontlike!
Miskien moet ons onsself meer dikwels afvra: Kan ék ook daar waar ek my in ongunstige omstandighede bevind, saam met moeilike mense moet leef of werk, en onregverdig behandel word, 'n verskil maak? Is my geloof in God en sy vermoë so sterk dat ek gewillig is om dit te praat? Lééf ek vergifnis? Kan ek sonder vrees vir weerspreking, onbeskaamd aan enigiemand in nood sê: "Ag, was jy maar net by Hom wat my lewe ook verander het?"
Gebed: Here, ek is skuldig daaraan dat ek die goeie nuus oor wie U is, so baie keer deur my negatiewe gesindheid, my gevoel van verontregting en my stilswye, dood leef. Vergewe my asseblief en gee my die moed om altyd, in alle omstandighede die boodskapper van goeie nuus te wees! Amen