Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Draer van goeie nuus - 'n losbandige vrou - 21 Augustus 2015

Carina Francke

In Johannes 4 lees ons van 'n vrou met 'n reputasie met wie Jesus 'n geselsie aanknoop deur water te vra. In die daaropvolgende gesprek deel Hy met haar waarhede oor Homself wat haar lewe sou verander. Hy ís die lewende water, die fontein wat opspring in mense se binneste en die ewige lewe bewerkstellig. Voordat Hy egter van hierdie water vir haar kan gee, moet sy die naakte waarheid oor haar eie lewe erken en besef dat Hy die Messias, die Christus is op wie almal gewag het. Sy woorde: "Dit is Ek wat met jou spreek!  (v26) bring haar in beweging. Sy laat val haar waterkan en hardloop dorp toe om die mense te vertel van dié man wat alles van haar lewe weet: "Kom kyk, 'n man.......Is Hy nie miskien die Christus nie?" (v29).

Let op wat die dorpsmense se reaksie op haar getuienis is: hulle gaan uit die stad en gaan na Hom toe (v30) en hulle dring aan dat Hy by hulle moet bly (v40). Aanvanklik het hulle geglo as gevolg van die vrou se getuienis: "En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het" (Johannes 4:39). Toe hulle Jesus egter sélf ontmoet en hoor wat Hy sê, verander dit na: "Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld is" (v42).

Ek en jy het een opdrag - om die goeie nuus oor te vertel van wat Christus in ons eie lewe gedoen het! Geen welsprekendheid of oortuigingsvermoë is nodig nie, net die eerlike getuienis van wat Hy gedoen het. Dit hoef nie die opsienbare as inhoud te hê nie, maar moet vertel van Jesus Christus wat in ons verlorenheid, pyn, siekte, hooploosheid, hartseer, werkloosheid, verdwaasdheid en, en, ingegryp en ons lewe verander het.

Soos hierdie vrou is ek en jy net die persone wat vertel en dan vooruithardloop na die plek waar Hy vir mense wag. Sy woord, sy teenwoordigheid, Hysélf is die Bron van mense se diep en onwrikbare geloof. Die voorreg om mense die pad te wys deur die goeie nuus in ons lewe, is presies wat dit is - 'n voorreg. Net die Here kry die eer as mense se lewens daardeur verander word.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U aan my dié dinge in my lewe openbaar wat nie 'n refleksie is van u teenwoordigheid in my lewe nie. Dankie vir u genade wat voortdurend in my lewe aan die werk is en my deur u woord verander sodat my lewe van u heerlikheid kan getuig.  Amen

Previous article: Draers van goeie nuus - ek en jy - 24 Augustus 2015 Prev Next article: Draer van goeie nuus - 'n Dogtertjie - 20 Augustus 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.