Draers van goeie nuus - ek en jy - 24 Augustus 2015
Carina Francke
Om te getuig is 'n lewenstyl. Jy is 'n getuie. Jy lééf jou getuienis, ook wanneer jy nie eens daaraan dink nie (RE Coleman). Hierdie is gelaaide woorde, want die ware jy, kan net vir 'n tyd lank weggesteek bly voordat dit vir hom 'n plek oopbreek na buite.
Die gemeente van Thessalonicense was sò 'n gemeente - hulle het geleef wat hulle in wese was. Hulle geloof was sigbaar in hulle werke; hulle liefde kon nie anders as om in arbeid uiting te vind nie; en hulle volharding was geïnspireer deur onverskrokke hoop wat op Jesus Christus gerig was - die Een vir wie hulle leef en van wie hulle getuig (1 Thessalonicense 1:3). Maar dis nie al nie, ten spyte van verdrukking, het hulle lewens voorbeelde geword vir gelowiges in ander dele van die land. Hulle werksplan het egter ook behels dat hulle die woord van die Here verkondig het en dat hulle geloof in God vir almal sigbaar geword het (v7-8). Hulle was inderdaad draers van goeie nuus in woord en daad.
Gewone mense op 'n sending.
Wat was die geheim van hierdie onverskrokke en toegewyde leefwyse? Hulle het: "navolgers geword van ons" (Paulus en sy medewerkers), maar baie belangriker,hulle was "navolgers van die Here, deurdat julle die woord ontvang het ... met die blydskap van die Heilige Gees" (1 Thessalonicense 1:6). Dié woord was nie die woorde van mense nie, maar die woord van God wat ook werk in julle wat glo" (1 Thessalonicense 2:13).
Hierdie leefwyse van boodskapper-wees, is steeds in ons moderne eeu van toepassing. Hoe sal mense weet van redding in Christus as ons lewens nie getuig nie en as ons nie ons stemme gebruik om die goeie nuus te versprei nie? Die waarheid van Romeine 10:15 is steeds van krag: "Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!" Jy hoef nie 'n predikant te wees om dit te doen nie, jou "kansel" is jou huis, die kantoor, die gemeenskap, die skool, die tou mense by die kasregister, die karwag.
Die Bybel spel baie duidelik uit waarom die mens hierdie boodskap móét hoor: almal het sonde gedoen en lewe nie soos God wil hê hulle moet lewe nie (Romeine 3:23); die mens is dood en het nodig om lewend gemaak te word (Efesiërs 2:1); die mens is geskei van God en loop 'n vernietigende en eensame pad van hooploosheid (Efe 2:12,13).
Die goeie nuus is: deur die bloed van Christus Jesus, kan enigeen wat ver en verwyderd van God was, naby aan Hom kom (Efesiërs 2:14). As jy naby gekom het omdat jy die boodskap gehoorsaam en geglo het, is jy ook nou 'n draer en potensiële boodskapper van die Goeie Nuus.
Gebed: My Vader, mag ek so gevul wees met u liefde, dat nie net my lewe sal getuig van u grootheid nie, maar dat my tong ook in woorde sal vertel wie U werklik is. Amen