Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Here en ek in teëspoed - 25 Augustus 2015

Carina Francke

Daar is niemand wat nie een of ander tyd teëspoed in hul lewe ervaar nie. Sommige blameer God vir hulle ellende, ander gaan sit in sak en as daaroor en nog ander blaas moord teenoor diegene wie hulle dink die oorsaak is. Teëspoed is deel van ons lewe in 'n gebroke wêreld, maar hoe ons daarop reageer, bepaal die invloed daarvan op ons menswees.

Dawid het hom in talle teëspoed-situasies bevind, maar beroep hom telkens op die Here se teenwoordigheid, mag, hulp, of reddingvermoë: "Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit elkeen red die Here hom" (Psalm 34:20).

Ons lees in 1 Samuel 30 hoe Siklag, die stad waar Dawid gewoon het toe hy voortvlugtend was vir Saul, met vuur verbrand is en dat al die vroue en kinders weggevoer is deur die Amalekiete. Interessant hoe mense verskillend reageer op hierdie slegte nuus: die gebroke manskappe  wil Dawid stenig, terwyl 'n ewe hartseer Dawid "hom versterk het in die Here sy God" (1 Samuel 30:6).

Hy sit nie op 'n hopie en vergaan van ellende nie, hy tree op! Die Een wat hom versterk, is sy eerste tree na aksie ... mag hy die ontvoerders agternajaag? Met die Ja! in sy sak, begin hy en die manskappe die agtervolging.

En God werk saam.

Oppad vind hulle die siek slaaf van 'n Amalekitiese man wat deel was van die aanval op Siklag. Hulle versorg hom, en in ruil daarvoor bring hy hulle af na die plek waar die Amalekitiese bende verstrooid rondlê, besig om met die buit fees te vier. Dawid se oorwinning is soet - hy verslaan hulle, bevry al die vroue en kinders en vind alles terug wat gebuit is.

Hierdie vertelling bring jou voor 'n vraag: Vertrou jy, en het jy die Here lief genoeg om jouself in Hom te versterk en Hom te raadpleeg as teëspoed aan jou deur kom klop? Luister jy dan as Hy praat en leef jy in volkome afhanklikheid van Hom?  Want dít is jou versterking!

Wanneer iemand hom versterk in die Here, bemoedig hy homself, praat hy letterlik hardop met homself: "Ek sê vir myself: moenie nou moedeloos word nie. Moenie twyfel nie. Waarom so hartseer? Vertrou net op God. Ek gaan hom loof, al kry ek baie swaar. Dit is Hy wat my uit swaarkry red. Ek sal weer vir Hom 'n loflied sing" (Psalm 42:6 DB).

Hierdie selfpraat is gelaai met positiwiteit - daar is geen plek vir moedeloosheid, twyfel of hartseer nie, want jy vertrou God. Jy loop déúr jou swaarkry, want lof vir God is jou metgesel. Jy kom aan die einde van jou swaarkry - steeds met 'n loflied -  want God het jou daaruit gered.

Gebed: Here, U is my krag en my sterkte. Sonder u teenwoordigheid en inspraak, val ek in die dryfsand van teëspoed vas. Ek sing 'n loflied tot U eer - 'n lied wat vertel dat God my God is.  Amen

Previous article: Die Here en ek : krummelgeloof - 26 Augustus 2015 Prev Next article: Draers van goeie nuus - ek en jy - 24 Augustus 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.