Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Here en ek : krummelgeloof - 26 Augustus 2015

Carina Francke

Mattheus 15:21-28 doen verslag van Jesus se besoek aan die nie-Joodse streke Tirus en Sidon waar 'n Kananése vrou uit daardie gebied, na Hom geroep het om haar duiwelbesete dogter te genees. Die feit dat die Jode haar volk verafsku en die dissipels daarop aandring dat Jesus haar wegjaag, het haar nie van stryk gebring nie - sy het in Hom geglo om haar kind gesond te maak.

Selfs toe Jesus haar ongeërg daarop wys dat Hy eintlik vir die verlore skape van Israel gekom het, deins sy nie terug nie. Sy val voor Hom neer en sê: "Here, help my!"(v25).  Vir 'n tweede keer kommunikeer Jesus sy oënskynlike onwilligheid: "Dit is nie mooi om die brood van kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie" (v26). Sy verstaan egter die idioom waarin Hy praat - die Jode het na heidene as honde verwys, wat impliseer dat hulle ook nie God se seën kon ontvang nie. Sy vat egter nie "Nee" vir 'n antwoord nie en kom met 'n verrassende geloofsantwoord: "Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval" (v27). Dit is wat Jesus wou hoor. Sy ongeërgdheid teenoor haar ontlok 'n belydenis van triomfantelike geloof.

Sy het besef dat sy nie kan aanspraak maak op 'n hele brood uit Jesus se hand nie, maar krummels uit sy hand, wás vir haar 'n hele brood. Haar krummelgeloof was dié soort waarvan Jesus in Lukas 17:6 praat: "As julle geloof gehad het soos 'n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant - en hy sou julle gehoorsaam wees."

Haar geloof was nie beïnvloed deur afjakke, die Jood se voorkeurbehandeling of haar heidense agtergrond nie. Sy het geweet dat oorvloed by Jesus beskikbaar is en dat Hy dit graag uitdeel. En die uitslag van haar onverskrokke, gelowige pleidooi? Jesus antwoord haar: "O, Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af" (v 28).

As jou geloof getoets word deur bespotting, verkleinering, omstandighede, of met 'n oënskynlike "nee!", sal jy in geloof steeds op Hom bly vertrou? Sal jy aanhou vra, al weet jy jou verlede, jou hede en jou nóú tel teen jou?  As jy "ja!" kan antwoord, kan jy rus in die wete dat Hy jou krummelgeloof as "groot geloof" sal prys en op die regte tyd en regte manier jou smeekgebed verhoor.

Gebed: My Vader, soms steier my geloof as dit lyk of U nie my hulpgeroep hoor nie. Ander kere wonder ek of daar hoegenaamd 'n krummel geloof in my gees en hart oorgebly het. Dis in hierdie desperate tye dat ek my op u Woord beroep: "As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed!" (Psa lm4:2). Laat dit so wees. Amen

Previous article: Die Here en ek - Stiptelike gehoorsaamheid (1) - 27 Augustus 2015 Prev Next article: Die Here en ek in teëspoed - 25 Augustus 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.