Die Here en ek - Stiptelike gehoorsaamheid (1) - 27 Augustus 2015
Carina Francke
Gehoorsaamheid aan God, lê aan die hart van gelowiges se verhouding met Hom. Dit kommunikeer wie die ereplek in jou lewe beklee en wie die objek van jou liefde en toewyding is.
Moses se kort opsomming van wat met Israel in die woestyn gebeur het, spel die belangrikheid van gehoorsaamheid aan God uit, maar wys ook duidelik op die gevolge van ongehoorsaamheid. (Deuteronomium 1:21-46).
Die Here gee opdrag dat die Israeliete moet optrek en die land van die Amoriete in besit neem; hulle hoef nie te vrees nie, want Hy trek voor hulle uit en Hy sal vir hulle stry. Hierdie versekering van die Here self, die goeie verslag van die verspieders oor die land wat hulle moet inneem en 'n terugblik oor hoe God hulle op die reis vanaf Egipte versorg en gedra het, was egter nie genoeg om hulle te laat gehoorsaam nie. Hulle vrees vir mense is groter as hulle agting vir die Here. Die gevolg hiervan? Die geslag wat uit Egipteland getrek het, mag nie meer die Beloofde Land binnetrek nie - slegs die kinders en die twee verspieders, Kaleb en Josua sou kon binnetrek (v35-39).
Met die aanhoor van hierdie nuus, wou hulle skielik gehoorsaam wees: "Ons het teen die Here gesondig; ons sal self optrek en veg net soos die Here onse God ons beveel het" (v41).Maar hierdie besluit kom te laat - hulle mag nie meer optrek of veg nie, want Hy sou nie by hulle teenwoordig wees nie en die vyand sou hulle verslaan. Weer het hulle nie geluister nie, en dra die gevolge: "... julle was wederstrewig teen die bevel van die Here en het vermetel in die gebergte opgetre ... en die Amoriete het julle verstrooi ... en julle het teruggekom en voor die aangesig van die Here geween, maar die Here het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie" (Deuteronomium 1:43-45).
Wat was dan die probleem? Hulle het immers erken dat hulle 'n fout gemaak het en wou dit regstel! Jy sien, hulle wou steeds op húlle voorwaardes gehoorsaam wees: hulle erken hulle sonde, maar vra nie vergifnis nie; húlle wil besluit wanneer dit die regte tyd is om gehoorsaam te wees, al dan nie; hulle sal sélf optrek en veg. Nêrens is daar erkenning gegee aan die Here nie - erkenning dat hulle hom nodig het, of dat Hy hulle tot sover gebring het nie.
Soos die Israeliete is ons eie wil, die"Ek" of die "Self", die mens se grootste struikelblok tot gehoorsaamheid. Jesus, seun van God, het egter stiptelike gehoorsaamheid kom demonstreer: "En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis" (Filippense 2:8). Sy voorbeeld is die een wat ons moet navolg.
Gebed: My Vader, my begeerte is om U te behaag. Help my om deur my stiptelike gehoorsaamheid, my eie ek in die pad te steek, elke keer wanneer dié wil kop uitsteek. Amen