Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Here en ek - stiptelike gehoorsaamheid (2) - 28 Augustus 2015

Carina Francke

Gehoorsaamheid raak die Here se hart; dit behaag Hom; dit verskaf Hom vreugde. Mense wat sy wil doen, is: "'n man (of vrou) na sy hart " (1 Samuel 13:14).Vir Hom is gehoorsaamheid van sy kinders prioriteit: "Om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister, beter as die vet van ramme" (1 Samuel 15:22).

Koning Saul kon nie stiptelik gehoorsaam wees aan die Here se opdragte nie. In 1 Samuel 13 is die Filistyne slaggereed om Israel binne te val, maar Saul mag nie met die aanval begin het voordat God se mondstuk, die profeet Samuel, vir hom sy opdragte gegee het en die Here se wil vra deur brand- en dankoffers te bring nie. (1 Samuel 10:8).  Die oormag swaar gewapende Filistyne, bang en drostende Hebreeuse soldate en Samuel wat nog nie daar is nie, laat Saul besluit "om homself sterk te hou en die brandoffer te bring" (1 Samuel 13:12).Vrees vir mense, omstandighede en tyd wat aanstap, skiet gate in sy gehoorsaamheid.Hy vat kortpad.

Groot fout! Samuel daag op. Om te wag, is dikwels 'n toets vir jou geloof en jou karakter - onwrikbare geloof dat Hy wat die opdrag gee, vir jou sal deurkom en dat jy jou "Self" eenkant toe moet skuif. Saul dop die toets en dra die gevolge: dit kos hom sy koningskap - al was dit eers later in sy lewe. Die Here het immers " ... vir Hom 'n man na sy hart gesoek," 'n gehoorsame persoon (1 Samuel 13:14).

Saul se tweede opdrag van die Here was om Ámalek te verslaan en alles met die banvloek te tref. Weer voer Saul die opdrag nie stiptelik uit nie - hy spaar die Amelekitiese koning se lewe, asook die lewens van die beste en naas-beste vee. Die Here se reaksie hierop: "Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want Hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie" (1 Samuel 15:11).Hy weet beter, of so dink hy.

Saul tree op soos ons ook dikwels optree. Hy verontskuldig homself en plaas die blaam op die manskappe omdat hulle die vee aan die Here wou offer. Sy eie-ek en vrees vir mense is weer eens die oorsaak vir sy ongehoorsaamheid aan die Here (v24). Samuel onderskei Saul se ongehoorsaamheid en onwilligheid om skuld te erken, as: "Wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens" (1 Samuel 15:23).

Ek en jy mag nie toelaat dat vrees vir mense, ons eiesinnigheid, ons trots, of ons wederstrewigheid  in ons pad staan om stiptelik te doen wat die Here sê nie. Wanneer die Woord en die Heilige Gees 'n leefstylgewoonte aanspreek, is dit nodig om te gehoorsaam, want Hy het elke minuut van ons vandag en môre in gedagte wanneer Hy opdragte gee of koers aandui. Ons ongehoorsaamheid uit beterweterigheid, bring ons net op paaie weg van Hom af.

Gebed: My Heer, help my om gewillig en dapper te doen wat U sê,  sonder om U te bevraagteken. Amen

Previous article: Die Here en ek - vreugde - 31 Augustus 2015 Prev Next article: Die Here en ek - Stiptelike gehoorsaamheid (1) - 27 Augustus 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.