Bou jou tempel - 8 September 2015
Xanthe Hancox
Nadat Salomo die tempel klaar gebou het, het hy die mure van die tempel aan die binnekant met sederplanke bedek; van die vloer af tot teen die dakbalke het hy dit met hout oorgetrek. Die vloer self het hy van sipresplanke gemaak. Hy het agter in die tempel tien meter afgeskort met sederplanke, van die vloer af tot teen die dak, en so aan die binnekant 'n binneste heiligdom ingerig, die Allerheiligste. Die groot vertrek, die voorste heiligdom, was twintig meter lank. Dit was aan die binnekant uitgevoer met sederhout, waarop kalbasse en blomknoppe uitgesny is. Alles was sederhout, daar was nie klip sigbaar nie. 1 Konings 6:14-18
As jy gedink het hoofstuk vyf is 'n lys van op die oog af betekenislose inligting, mag jy dalk in die versoeking wees om met 'n gaap van verveling vandag se teks eerder oor te slaan. Die hoofstuk het 38 verse wat die bou van die tempel presies beskryf, kompleet met inligting oor die mure, die vloer en 'n uitgebreide beskrywing van die interieur. Wat op aarde kan ons hieruit leer?
Eerstens, die Bybel se beskrywing van die tempel openbaar iets van God se heerlikheid. Hierdie tempel was vier keer groter as die tabernakel van Moses se tyd. En waar die tabernakel hoofsaaklik uit gordyne en 'n grondvloer bestaan het, was die tempel uitgevoer met duursame materiaal. Die vloer, die mure, die plafon was met seder- en dennehout asook goud bedek; die tempel was versier met goudbedekte gerubs, en teen die mure was uitgesnyde gerubs, palms en blomknoppe. In kort, die beskrywing van die tempel vertel ons van God se grootsheid en van sy heerlikheid.
Tweedens, gebruik God die tempel om sy doel te openbaar: Die woord van die Here het tot Salomo gekom en gesê: “Jy bou nou die tempel … Ek sal tussen die Israeliete woon, Ek sal my volk Israel nie verlaat nie." (vers 11-13). God wou daar by sy volk woon netsoos Hy teenwoordig was in die tabernakel.
Salomo se tempel is ongeveer 2 500 jaar gelede vernietig, maar God se doel het nie verander nie. Hy woon steeds tussen sy kinders. In 1 Korintiërs 3:16 sê Paulus: "Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?" Terwyl jy vanoggend hierdie beskrywing van Salomo se tempel lees, dink aan jou eie tempel. Dink hoe jy die liefde en genade van God, sy grootsheid en heerlikheid en sy doel, weerspieël.
Gebed: Here, dit stem my so nederig om daaraan herinner te word dat ek u tempel is en dat U dieselfde gehoorsaamheid, geregtigheid en heiligheid verlang as wat U van Salomo gevra het. Leer my deur u Heilige Gees hoe om elke dag my tempel te bou sodat ek u heerlikheid en u doel om onder ons te woon, sal weerspieël. Amen