Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Jakin en Boas - 9 September 2015

Xanthe Hancox

Hiram het die pilare by die voorportaal van die tempel opgestel. Die een wat hy regs opgestel het, het hy Jakin genoem, en die een links Boas. Bo-op die pilare was die kapitele in die vorm van blomkelke. Daarmee was die werk aan die pilare afgehandel. 1 Konings 7:21-22

Toe die tempel klaar gebou was, het Salomo Hiram ontbied, 'n ambagsman in alle soorte bronswerk om die afwerkings aan die tempel te doen. Die pilare wat Hiram voor die tempel opgerig het, was indrukwekkend ‑ ongeveer nege meters hoog en sowat ses meter in die omtrek. Selfs meer indrukwekkend was die kapitele bo-op die pilare. Hulle was twee meter hoog en in die vorm van blomkelke. Daar was roosters met gevlegte kettingwerk aan die kapitele bo-op die pilare en op elke rooster het hy rye bronsgranate aangebring.

Dit wil voorkom of die twee pillare slegs ornamente was en tog is daar baie bespiegeling oor hulle betekenis. Sommige teoloë beweer dat hulle verwys na die wolk en die vuur wat die Israeliete deur die woestyn gelei het. Hiram het die pilare Jakin en Boas genoem. Jakin beteken "hy vestig" en Boas "in hom is krag". Miskien was hulle daar om die priesters en almal wat verby hulle geloop het om in die tempel te gaan aanbid, daaraan te herinner om op God te vertrou en nie op hulle eie krag staat te maak nie.

Dit is iets wat ons gerus ook kan onthou. Dit het my aan Paulus se woorde in Kolossense laat dink waar hy noem dat ons aan Christus verbind is en in hom gewortel is. "Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul." (Kolossense 2:6-7) Wanneer ons ons geloof plaas in die dood en opstanding van Christus, is ons in hom gewortel, maar dit is nie die einde van die pad nie. Ons moet Hom toelaat om ons voortdurend op te bou en ons geloof te versterk sodat ons vir Hom vrug kan dra.

Gebed: Leer my om op U, en slegs op U, te vertrou. Gee dat u Woord deur my sal werk en dat my lewe en die besluite wat ek neem, en hoe ek op verskillende situasies in my lewe reageer, van U sal getuig.  Amen

Previous article: Salomo se gebed - 10 September 2015 Prev Next article: Bou jou tempel - 8 September 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.