Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

'n Hart van integriteit - 11 September 2015

Xanthe Hancox

“En jy, as jy soos jou vader Dawid opreg en met oorgawe voor My leef en alles doen wat Ek jou beveel en my voorskrifte en bepalings nakom, sal Ek jou heerskappy oor Israel bestendig. So het Ek jou vader Dawid belowe: Daar sal altyd iemand uit jou nageslag wees om oor Israel te regeer. 1 Konings 9:4-5

In vandag se gedeelte vertel God aan Salomo dat indien hy Hom opreg en met oorgawe dien, sal Hy hom seën. Verder aan in die hoofstuk waarsku God Salomo egter dat indien hy of sy volk hulle wegdraai van God sal Hy hulle verdryf uit die land wat Hy aan hulle gegee het. Hierdie gesprek het plaasgevind nadat Salomo die tempel en die paleis voltooi het; sowat 24 jaar nadat hy die troon bestyg het. Die bou van die tempel en die werk aan die paleis in Jerusalem was voltooi en Salomo moes nou, nadat hy hierdie groot prestasies behaal het, voortgaan met die alledaagse lewe.

Dit is interessant dat God na Dawid verwys as opreg, 'n man met integriteit. In ander Skrifgedeeltes word genoem dat Dawid 'n man na God se hart was. (1 Samuel 13:14; Handelinge 13:22). Onthou die Here verwys hier na 'n man wat egbreuk gepleeg het en toe 'n man laat vermoor het. (Lees die storie in 2 Samuel 11). Die woordeboek se definisie van integriteit verwys na die ferm nakoming van morele waardes. Nie juis 'n beskrywing van iemand met 'n verlede soos die van Dawid nie!

Nou wat beteken dit dan om 'n hart van integriteit te hê, om opreg te wees?

Toe Dawid sy sonde besef het, het hy dit teenoor God bely: "Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees." (Psalm 51:9). Ja, ons is almal sondaars. Ons kan in die modder van ons sondes bly rondrol, of ons kan besef dat, ten spyte van ons sonde, ons danksy dit wat Jesus vir ons aan die kruis behaal het, mense met integriteit is. Moenie dat die skuldlas van jou sonde jou daarvan weerhou om jou Christenskap met vreugde uit te leef nie. Bely eerder jou sonde en leef deur die genade van God met vreugde.

Gebed: Here, bewaar my van sonde en versoeking. Vergeef my al die kere wat ek toegelaat het dat die skuldbesef van my sonde my van belydenis en van 'n hart van integriteit weerhou het. Amen

Previous article: Wysheid en rykdom - 14 September 2015 Prev Next article: Salomo se gebed - 10 September 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.