Wysheid en rykdom - 14 September 2015
Xanthe Hancox
Sy het vir die koning gesê: “Wat ek in my land oor u en u wysheid gehoor het, is waar. Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys dat Hy u op die troon van Israel gesit het! Dit is omdat die Here Israel vir altyd liefhet dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en die reg te handhaaf.” 1 Konings 10:6,9
In 1 Konings 10 besoek die Koningin van Skeba Jerusalem om vir haarself te gaan uitvind of die gerugte oor Salomo se rykdom en wysheid waar is. Daar sien sy alles wat Salomo bereik het – die indrukwekkende geboue, voedsel in oorvloed, sy bediendes wel geklee, die unieke tempel en die koning se paleis.
Sy was so beϊndruk deur dit wat sy gesien en gehoor het dat sy die God van Israel geloof en geprys het. Sy was ook nie die enigste een nie; konings van oor die hele wêreld het gekom om na Salomo se wyshede te luister en om te sien wat die koning alles gebou het.
Dit is maklik om van Salomo se rykdom te lees en hoor en dan vir ons dieselfde te begeer. Dit is ook waar dat die Here diegene wat aan Hom getrou is, seën. En soms is dit materiële seëninge. Dit is egter nooit net vir ons eie gewin bedoel nie. Die Koningin van Skeba was so beϊndruk deur dit wat sy gesien en beleef het, dat sy God geloof het. Ander wat van oor die hele wêreld gekom en Israel se rykdom gesien het, wou meer van die God van Israel weet.
Wanneer die Here ons met materiële dinge seën, sal ander mense dit wel raaksien. Dit behoort daartoe aanleiding te gee dat hulle sal begeer om meer van God te wete te kom, en dit kan slegs gebeur as hulle daarvan bewus is dat al ons seëninge van die Here afkomstig is! Hulle moet weet dat ons die Here dien. Indien ons egter so leef dat mense heeltemal onbewus is dat ons aan die Here behoort en Hom dien, beroof ons Hom van die gevolg van sy seëninge.
As mense ons egter prys en met groot respek behandel oor dit wat hulle dink ons uit eie krag bereik het, sou dit miskien beter gewees het as ons geen seëninge ontvang het nie. Al die lof moet God toekom, en mense behoort ons te vra om ons kennis van Hom ook met hulle te deel.
Gebed: Here, ons bid om u wysheid sodat ons diegene wat vra hoekom U ons seën kan help om ook u liefde en vergifnis te vind. Gee ons vandag dit wat ons nodig het om bruikbaar in u koninkryk te wees. Amen