Salomo se dwaasheid - 15 September 2015
Xanthe Hancox
Koning Salomo was lief vir baie uitlandse vrouens. Behalwe die dogter van die farao het hy ook vrouens uit die Moabiete, Ammoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete gehad. Dit was die nasies waarvan die Here vir die Israeliete gesê het: “Julle mag nie met hulle omgaan nie, en julle mag nie toelaat dat hulle met julle omgaan nie, want hulle sal julle net verlei om hulle gode te aanbid.” Daarom het die Here nou vir hom gesê: “Omdat dit so is dat jy jou nie hou aan my verbond en aan die voorskrifte wat Ek jou gegee het nie, sal Ek die koningskap van jou afskeur en vir 'n onderdaan van jou gee. 1 Konings 11:1-2a, 11
Die afgelope twee weke het ons redelik baie van Salomo se wysheid geleer. In vandag se gedeelte lees ons van sy dwaasheid.
Wanneer 'n mens vir die eerste keer die geskiedenis van Salomo se dwalinge lees, is dit feitlik onverstaanbaar. Hoe kan 'n koning wat sulke wyse besluite kon neem so 'n ramp oor sy familie en sy land bring? Hoe kon iets wat so reg was so verkeerd loop?
Ten spyte van al sy wysheid, mag en beroemdheid het Salomo 'n ernstige swakheid gehad. Hy het 700 vrouens en 300 byvroue gehad (vers 3). Interessant dat Salomo se aantal huwelike nie veroordeel word nie. In die antieke wêreld was dit algemene gebruik vir 'n koning om deur huwelike politieke alliansies te verseker. Salomo se huwelike word wel veroordeel omdat hulle hom na afgode gelei het.
In 1 Konings 11 is dit duidelik dat Salomo se hart sy verstand oorheers het. In vers 2 lees ons: "… want hulle sal julle net verlei om hulle gode te aanbid” en in vers 4 lees ons: "Toe het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien … nie."
Dit is belangrik om te besef dat Salomo nie sommer oornag van God vergeet het nie. Maar hy het wel besluit om ander gode in sy lewe toe te laat. En met die verloop van tyd neem hierdie afgode al hoe meer van sy tyd in beslag en uiteindelik dien hy die God van sy vader Dawid nie meer met algehele toewyding nie. Hy begin om die vreemde gode van sy uitlandse vrouens al hoe meer te dien.
Die meeste mense wat van hulle geloof afstand doen, doen dit oor 'n tydperk. Hulle laat allerhande dinge die plek van God inneem. Miskien ken jy so 'n persoon. Bid vandag vir daardie persoon, maak 'n telefoonoproep en nooi hom of haar om Sondag saam met jou kerk toe te gaan.
Gebed: Hemelse Vader, vergewe my asseblief vir al die kere wat ek allerhande dinge toelaat om u plek in my lewe in te neem. Help my om opnuut op U te fokus en om weg te draai van dinge wat ek weet my verder van U af sal weglei. Amen