Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Kies wyse raad - 16 September 2015

Xanthe Hancox

… het koning Rehabeam die raad gevra van die ouer mense wat in diens van Salomo, sy pa, was tydens dié se lewe. “Wat meen julle moet ek hierdie mense antwoord?” het hy gevra. Hulle het vir hom gesê: “As u dit goed bedoel met hierdie volk en hulle tevrede stel en hulle 'n gunstige antwoord gee, sal hulle altyd u onderdane bly.” Maar hy het die raad wat die ouer mense hom gegee het, in die wind geslaan en die raad gevra van die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en in sy diens was: 1 Konings 12:6-8

Terwyl Salomo nog koning was het die Here 'n ander man, Jerobeam, beloof dat hy as gevolg van Salomo se sonde, oor tien van Israel se stamme sou heers. Salomo was baie kwaad oor hierdie belofte en hy wou Jerobeam om die lewe bring. Jerobeam het toe Egipte toe gevlug.

Na Salomo se dood het sy seun Rehabeam die troon bestyg. Rehabeam beleef sy eerste leierskaptoets en faal geheel en al. Hy verwerp die goeie raad wat hy van die ouer mense ontvang, en luister eerder na sy vriende wat hom vertel wat hy wil hoor.

Ons kan ook soms soos Rehabeam optree. Party keer verkies ons die raad van diegene wat ons sal vertel wat ons wil hoor, eerder as die goeie raad wat ons moet hoor.

Die gevolg vir Rehabeam was dat 10 van die stamme hom verlaat het om Jerobeam te volg. Deur na verkeerde raad te luister, kan ook vir ons slegte gevolge hê. Swak loopbaankeuses, gebroke huwelike, finansiële swaarkry, beskadigde verhoudings, is maar net 'n aantal gevolge wat ons kan beleef. Is dit nie beter om eerder na goeie raad te luister as na ons eie begeertes nie?

Gebed: Here, help my om u raad te soek en te volg. Dankie vir die Bybel waarin ons soveel antwoorde op lewensvrae vind, en vir Christenvriende en –mentors wat die moed het om vir my iets te sê wat ek dikwels nie wil hoor nie. Amen

Previous article: Wat die Here ons leer - 17 September 2015 Prev Next article: Salomo se dwaasheid - 15 September 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.