Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wat die Here ons leer - 17 September 2015

Xanthe Hancox

Net toe hy daar op die altaar die offer aan die brand steek, kom daar 'n man van God uit Juda aan wat op bevel van die Here na Bet-El toe gekom het. Jerobeam het nog by die altaar gestaan om die offer aan te steek, toe die man van God op bevel van die Here teen die altaar uitroep … 1 Konings 13:1-2a

In die begin van hierdie hoofstuk lees ons van die eerste groot godsdienstige fees wat Koning Jerobeam gehou het. Die koning het die altaar bestyg om die offerhande te bring aan die goue kalwerbeelde wat hy laat maak het (1 Konings 12:28). En terwyl hy daar staan met 'n skare mense wat toekyk en die kalwerbeelde wat in die son glinster, kom 'n man van God uit Juda skielik vorentoe om 'n kragtige boodskap van die Here oor te dra.

Ons weet nie wie hierdie man was nie, maar sy boodskap is vir ons opgeteken. Hy veroordeel die altaar by Bet-El en voorspel dat 'n man uit die nageslag van Dawid met die naam Josia, eendag die bene van Jerobeam se priesters op die altaar sou verbrand. Jerobeam het nie gehou van wat hy gehoor het nie en het sy hand uitgesteek en sy manne beveel om die man te gryp. God het egter sy arm laat styf word en hy kon dit nie terugtrek nie. Toe hy die boodskapper gevra het om sy arm te herstel, het God dit genadiglik gedoen.

Soms ontmoet ons welsprekende mense wat met briljante argumente ons in die versoeking lei om dit wat hulle sê te glo en na te jaag. Ek hoop dat ons eerder die voorbeeld van die naamlose man sal volg. Alhoewel daar in die groot skare mense was wat geweet het dat Jerobeam se manier van aanbidding verkeerd was, was daar net een man was sy lewe gewaag en dapper vorentoe geloop het om die koning te konfronteer. Dit maak nie saak wie ons opdragte gee nie, ons moet dit wat God in sy Woord sê gehoorsaam. Dit maak nie saak hoe gerespekteerd of godsdienstig die persoon is nie, ons moet die Bybelse boodskap vertrou en uitleef. Die Here gee ons baie geleenthede by byvoorbeeld die skool, met vriende of familie of by die werk, om die een stem te wees wat vir Christus opkom. Mag die Here ons help om dit met moed en toewyding te doen.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die wonderlike voorreg om U, ons Skepper en Verlosser, te mag aanbid. Gee aan ons die nodige moed en vertroue om openlik vir U op te kom, selfs wanneer almal om ons U minag. Amen

Previous article: Vermomming en misleiding - 18 September 2015 Prev Next article: Kies wyse raad - 16 September 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.