Vermomming en misleiding - 18 September 2015
Xanthe Hancox
In dié tyd het Abia, 'n seun van Jerobeam, siek geword. Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Gaan vermom jou sodat die mense jou nie herken as Jerobeam se vrou nie. Gaan dan na Silo toe waar die profeet Agija is. Dit is hy wat gesê het dat ek koning sal word oor hierdie volk. Vat tien brode en koeke en 'n kruik heuning saam en gaan na hom toe. Hy sal vir jou sê wat met die kind gaan gebeur.” 1 Konings 14:1-3
Onder Jerobeam die koning van Israel het die volk gou afvallig geword. Toe sy seun Abia egter ernstig siek word, het hy die profeet van God onthou wat aan hom tien stukke van sy mantel oorhandig het. (1 Konings 11:31). Hy kon self na die profeet toe gegaan het om te vra vir die seun se genesing, maar hy doen dit nie. Hy vermom sy vrou en stuur haar na die profeet om te gaan uitvind of sy seun sal leef.
En wat 'n boodskap kry hy nie van die profeet nie! Die bejaarde profeet is wel blind, maar hy laat hom nie mislei nie, hy sien deur Jerobeam se vrou se vermomming. Hy voorspel die dood van Jerobeam se seun Abia, die einde van Jerobeam se koninklike bloedlyn, en die verwoesting en gevangenskap van die noordelike koninkryk van Israel, en dit alles omdat Jerobeam ontrou aan die Here was.
Wanneer 'n mens se verhouding met God op 'n punt is waar jy bang is dat God se kinders jou sal herken, het jy groot probleme. Jerobeam het geweet dat hy van God vervreem is en daarom was hy bang om self na God se profeet toe te gaan. Alhoewel Jerobeam tot 'n sekere mate erken het dat die profeet van God oor krag beskik het wat sy afgode nie het nie, sê hy nie vir sy vrou om vir hulle seun te bid of om vir die profeet te vra om vir hom te bid nie. Hy wil net die profeet as 'n soort fortuinverteller gebruik. Jerobeam se nageslag kon vir altyd op die troon gebly het, maar hy verwerp God se belofte deur sy ongeloof, afgodediens en sy algehele verwerping van God.
Jy het seker nog nooit nodig gehad om namens jou man as 'n vermomde vrou kerk toe te gaan nie, maar netsoos die geval was met Jerobeam, vervreem ons sonde en ongehoorsaamheid ons van God. Slegs deur in Jesus Christus te glo en op Hom alleen te vertrou, kan ons sondes vergewe word, en is ons nie langer van God vervreemd nie, word ons sy oordeel gespaar en ontvang ons sy wonderlike beloftes.
Gebed: Here, vergewe my asseblief al my sondes wat my van U af weghou. Dankie vir u genade en dat ek deur Jesus verlos is. Deur u Heilige Gees wat in my woon en werk, bring my asseblief elke dag nader aan U. Amen