Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Suksesvol voltooi - 21 September 2015

Xanthe Hancox

In die twintigste regeringsjaar van koning Jerobeam van Israel het Asa koning geword van Juda. Hy het een en veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ouma was Maäka, 'n dogter van Abisalom. Asa het gedoen wat reg is in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid. 1 Konings 15:9-11

Sedert Salomo se val, was die koninklike bloedlyn 'n sondige een. Sy seun, Rehabeam, en sy kleinseun, Abia, het beide hulle rug op God gekeer. Koning Asa is die seun van Abia en vir die eerste keer sedert Salomo is daar 'n ligpuntjie wat die konings van Juda betref.

Koning Asa het sy heerskappy goed begin. Hy het die afgodsbeelde verwoes, wierookaltare afgebreek, klippilare stukkend gekap, hy het sy stede versterk en drie honderd duisend man met skild en spies bewapen. Maar die belangrikste was dat hy gedoen het wat goed en reg was in die oë van die Here.

In 2 Kronieke leer ons meer oor Asa se lewe, en daar lees ons dat toe die Kussiet, Serag, Juda met 'n ontsaglike groot leërmag binnegeval het, het Asa die Here sy God aangeroep: “Here, net U kan die swakke teen 'n oormag help. Help ons, Here ons God! Ons steun op U, … " (2 Kronieke 14:11a). Die gevolg? "Tot sy vyf en dertigste regeringsjaar was daar nie oorlog nie." (2 Kronieke 15:19).

Tog, in die vyf en dertigste jaar het daar iets gebeur wat 'n negatiewe impak gehad het op die manier hoe Asa sy lewe afgesluit het. Baesa, die koning van Israel, het Juda afgesper om handel te verhoed, 'n seker teken van 'n dreigende inval. En toe, instede van om sy krag by God te soek, het Asa die goud en silwer uit die skatkamers van die tempel geneem en 'n heidense koning omgekoop om hom teen Baesa te beskerm.

Die Here stuur toe vir Ganani om Asa te berispe. Ganani herinner Asa aan alles wat God voorheen vir hom gedoen het, maar Asa wil nie na die siener luister nie. Hy laat sit hom eerder in die tronk. Asa het selfs begin om sy eie mense te onderdruk. Uiteindelik het hy 'n uiters ernstige voetsiekte opgedoen, maar steeds het hy God nie geraadpleeg nie.

Wat kan ons van Asa leer? Ongeag ouderdom, posisie of status, gaan ons hierdie wêreld verlaat óf as iemand wat sy lewe suksesvol voltooi het óf as een wat gestruikel het. Hoe kan ons ons lewens suksesvol voltooi? Deur ons heelhartig aan God toe te wy.

Gebed: Hemelse Vader, ek begeer om my lewe suksesvol te voltooi. Ek lees so dikwels in die Bybel van konings en leiers wat op hulle oudag U verwaarloos het, maar dankie dat ek reeds geleer het dat ek 'n gemors van alles maak wanneer ek probeer om die wedloop op my eie te hardloop. Dankie vir u groot genade. Amen

Previous article: 'n Waarskuwing van Josua - 22 September 2015 Prev Next article: Vermomming en misleiding - 18 September 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.