Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

'n Waarskuwing van Josua - 22 September 2015

Xanthe Hancox

In daardie tyd [toe Agab koning was] het Giël van Bet-El die stad Jerigo opgebou. Toe hy die fondamente daarvan gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste, Segub, gesterf. Dit was in ooreenstemming met die vervloeking wat die Here deur Josua seun van Nun uitgespreek het.  1 Konings 16:34

Ses honderd jaar voor Agab die troon bestyg het, het Josua 'n vervloeking uitgespreek. Hy het gesê: “Die Here sal die man straf wat dié stad, Jerigo, probeer herbou. Dit sal hom sy oudste seun kos as hy die fondament lê en sy jongste as hy die poortdeure hang.” (Josua 6:26)

Maar hoekom het God 'n vloek geplaas op die herbou van Jerigo se mure?

Jerigo was op die grens met Kanaän. Dit was die eerste stad wat die Israeliete teëgekom en verslaan het. Maar soos ons uit Josua 6 weet, het hulle dit nie uit eie krag reggekry nie. Die Here het vir hulle gewys dat Hy vir hulle sal veg, dat Hy die land aan hulle sal gee ‑ dat hulle op Hom kon vertrou.

Dit is dan ook die rede hoekom Josua die vervloeking oor Jerigo uitgespreek het. Die vraag was – sou die Israeliete op God vertrou of sou hulle weer op menslike krag staatmaak?

Maar Agab het nie op die Here vertrou nie. 'n Onbeskermde Jerigo was iets wat hy nie kon verdra nie. Jerigo was die poort na sy koninkryk en om dié rede moes dit herbou word om weer 'n vesting ter beskerming te word. Agab kon net veilig voel wanneer Jerigo deur dik, hoë, sterk mure omring was.

Baie mense beskou die Bybel soos Agab God beskou het. Hulle dink hulle kan die Here ignoreer, hulle eie oordeel gebruik en alles sal reg wees.

Dit is opmerklik dat Giël voortgegaan het om Jerigo se mure te herbou, selfs nadat sy oudste seun, Abiram, gesterf het. 'n Mens sou dink dat die dood van sy eersgeborene hom aan Josua se vervloeking sou herinner en dat dit hom in sy spore sou stuit. Maar nee, hy volhard in die sonde.

Hoe ernstig is jy vandag oor die Woord van God? Vertrou jy Hom?

Gebed: Here, ons lewe in 'n wêreld wat vir ons vertel dat die Bybel niks meer is as feëverhale en legendes nie, en dat u waarskuwings en beloftes niks beteken nie. Vergewe my al die kere wat ek u Woord nie ernstig opgeneem het nie. Help my om U vandag volkome te vertrou.  Amen

Previous article: Verblind deur emosies - 23 September 2015 Prev Next article: Suksesvol voltooi - 21 September 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.