Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Verblind deur emosies - 23 September 2015

Xanthe Hancox

Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my 'n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”  1 Konings 17:13-14

Oor en oor illustreer gebeure in Elia se lewe wat die Here alles met niks kan doen. Die verhaal van die weduwee met die meel en die olie wat nooit opraak nie, is vir baie van ons bekend.

Toe ek vanoggend weer die storie lees, het die weduwee se antwoord toe haar seun siek word, my erg verbaas. Sy sê vir Elia: “Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?” (v 18).

Dit is vreemd watter krag ons emosies oor ons het. Dit is waar dat die weduwee se omstandighede baie traumaties was, en die meeste van ons kan haar vergewe dat sy haarself baie jammer gekry het. Ek vermoed baie van ons sal ook kwaad en bitter voel as ons in armoede moet leef en ons enigste kind is besig om te sterf.

En tog is dit nie die volle verhaal nie. 'n Wonderwerk het elke dag in haar huis gebeur met die meel en die olie wat nie opgeraak het nie. Sy kon egter nie insien dat dit 'n wonderwerk was nie.

Soms verhoed angs, depressie of sommer net 'n moeilike dag ons om raak te sien wat God om ons doen. Hy is werklik altyd aan die werk, maar soms verblind ons emosies ons so dat ons nie kan sien wat Hy doen nie. Al wat ons in sulke tye raaksien is ons eie gevoelens en die skewe beeld van die werklikheid wat daarmee saam kom. Ons sien nie die waarheid nie.

Baie om ons sê ons leef in gevaarlike tye: die ekonomie verswak, inflasie sal toenemend styg, daar gaan opstande in die strate wees. Instede om na die onheilsprofete te luister, moet ons eerder na die stem van God luister, die fluistering hier diep binne wat sê: "Moenie bang wees nie".

Gebed: Here, help my om vandag met blydskap te leef. Help my om te sien hoe U in my lewe werk. Gee dat my emosies my nie so sal verblind dat ek nie u waarheid in my omstandighede kan raaksien nie.  Amen

Previous article: Kies die wenkant - 25 September 2015 Prev Next article: 'n Waarskuwing van Josua - 22 September 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.