Kies die wenkant - 25 September 2015
Xanthe Hancox
Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” Die volk het hom nie 'n woord geantwoord nie. 1 Konings 18:21
Hierdie is 'n redelik bekende gedeelte in die Bybel wat die verhaal vertel van een man, Elia, wat standpunt ingeneem het vir God teen 'n bose koning en diegene wat afgode aanbid het.
Daar was dié dag twee groepe op Karmelberg. Die eerste groep het bestaan uit die priesters wat die afgode aanbid het, 450 profete van Baäl en 400 van Asjera.
Die tweede groep, die grootste groep daar, was draadsitters van oral oor Israel. Hulle was nie seker wat presies hulle glo nie. Wanneer gevra, sou hulle ongetwyfeld gesê het dat hulle in die God van Israel glo, maar hulle het ook die knie voor ander gode gebuig. Hulle was nie volkome toegewy aan God Almagtig nie, maar ook nie aan die mensgemaakte afgode nie. Ons teksvers sê dat hulle op twee gedagtes gehink het, – die volk Israel was toegewy aan niks en daarom ontvanklik vir alles.
Dit is presies waaroor Elia in die storie hulle, en ons, uitdaag. Wanneer hy sê: "Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes?" kon hy net sowel met die Kerk van vandag praat. So baie probeer om beide kante tevrede te stel en staan met 'n voet in beide wêrelde.
Die Amerikaanse predikant, AW Tozer, stel dit baie goed wanneer hy skryf: "Wie aan God se kant is, is aan die wenkant en kan nie verloor nie; wie aan die ander kant is, is aan die verloorkant en kan nie wen nie. Hier is geen dobbelkans nieOns is vry om te kies aan watter kant ons wil wees, maar ons is nie vry om die uitkoms van die keuse wat gemaak is, te onderhandel nie. Deur die genade van God kan ons wel 'n verkeerde keuse bely en die gevolge verander deur 'n nuwe en regte keuse te maak. Meer as dit kan ons nie doen nie." [vrye vertaling]
Neem vandag 'n oomblik om 1 Konings 18 te lees. God openbaar op 'n wonderlike wyse aan die Israeliete dat sy kant die wenkant is. Gaan jy vandag kies om aan sy kant te wees?
Gebed: Here, vergewe my waar ek nie veel anders as die Israeliete van ouds opgetree het nie. Here Jesus, vandag kies ek U opnuut, sonder voorbehoud, sonder om terug te kyk, sonder om 'n draadsitter te wees wat hink tussen twee gedagtes ‑ tussen U en die wêreld. Amen