Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hanteer uitputting - 28 September 2015

Xanthe Hancox

Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. 1 Konings 19:3-5

In Vrydag se gedeelte uit 1 Konings 18 het ons gelees van die belangrike rol wat Elia gespeel het in 'n skitterende oorwinning. Die gevolg was dat die profete van die vals god, Baäl, almal doodgemaak is. Maar nou lees ons dat Isebel Elia om die lewe wil bring (vers 2).

Elia is bang en hy vlug vir sy lewe. Hy is egter nie net bang en uitgeput nie, hy voel ook dat alles wat hy tot sover vermag het, geen betekenis het nie en dat hy net sowel kon boedel oorgee. Hy verduidelik vir die Here hoe moeilik sy taak was en hoe min vordering hy gemaak het. Hy voel alleen, hy voel asof hy die enigste een is wat vir die waarheid veg.

Dit is nie ongewoon in die Christelike lewe nie. Ons beleef dikwels 'n wonderlike geestelike oorwinning of is intens betrokke by geestelike aktiwiteite, net om daarna moeg en uitgeput te voel. En dan is dit moontlik om, soos Elia, depressief te raak.

Maar die Here het begrip vir Elia se gemoedstoestand en Hy gee om. Eerstens benodig Elia sekere basiese dinge, hy moet eet en rus en die engel van die Here het vir hom kos en water gebring (vers 5-8a). Nog belangriker is dat hy tyd alleen met die Here nodig gehad het. (vers 8b). Nadat hy sy fisiese krag herwin het, stap hy na die berg Horeb waar die Here met hom praat en hom daaraan herinner dat hy nie alleen is nie.

Elia het miskien gedink dat hy die enigste mens is wat God gehoorsaam, maar die Here sê vir hom dat daar in Israel 7 000 mense is "wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.” (vers 18).

Miskien voel jy vandag dat jy die enigste Christen by jou werk of skool is, of selfs in jou gesin. Miskien voel jy dat alles wat jy vir die Here doen tevergeefs is, maar onthou, jy is nie alleen nie! Spandeer tyd om na jouself om te sien. Spandeer tyd met God en sy Woord.

Gebed: Here, ons is werklik baie swak en broos. Dit neem nie veel om ons te oorweldig nie. Dankie vir die voorbeeld van Elia. Help my asseblief om in tye van stres myself nie onnodig te bekommer nie, maar om eerder te rus in u teenwoordigheid en op U te vertrou.  Amen

Previous article: Gehoorsaamheid en geregtigheid - 29 September 2015 Prev Next article: Kies die wenkant - 25 September 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.