Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Gehoorsaamheid en geregtigheid - 29 September 2015

Xanthe Hancox

Hierna het die volgende gebeur: Nabot die Jisreëliet het in Jisreël 'n wingerd gehad langs die paleis van koning Agab van Samaria. Agab het met Nabot gaan praat en vir hom gesê: “Gee jou wingerd vir my vir 'n kruietuin, want dit lê net langs my huis; dan gee ek jou 'n beter wingerd in die plek daarvan. Of as jy wil, sal ek jou daarvoor betaal.” Maar Nabot het vir Agab geantwoord: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!”  1 Kings 21:1-3

Lees 'n bietjie 1 Konings 21 en dit mag jou miskien verbaas dat dit oor gierigheid om grond te bekom, misbruik van mag, korrupsie van die howe en geweld teen die armes handel – alles dinge waarmee die meeste van ons bekend is.

Nabot doen wat reg is in die oë van die Here ten spyte van die druk wat 'n magtige persoon, koning Agab, op hom uitoefen. In antieke Israel was grond die erfenis van 'n familie, en moes dit nie van hulle weggeneem word nie, maar oorgedra word van geslag tot geslag. Nabot het gehoorsaam aan God gebly en geweier om sy wingerd te verkoop; en dit het hom sy lewe gekos. Koningin Isebel het seker gemaak dat daar vals getuienis gelewer word dat Nabot 'n vloek oor koning Agab uitgespreek het. Nabot is toe gestenig.

Maar God is selfs in die kleinste daad van ongehoorsaamheid teenwoordig. Hy het geweet wat met Nabot gebeur het. Nie net het God Agab en Isebel beskuldig van alles wat hulle verkeerd gedoen het nie, maar Hy het wraak geneem. Ons lewe in 'n wêreld vol van ongeregtighede, maar God is 'n God van ware geregtigheid. Hierdie gedeelte uit die Bybel versterk en vertroos gelowiges wat onregverdig ly. Christene ly regoor die wêreld, maar geen onregverdige daad gaan ongemerk by God verby nie. Dit lyk miskien asof die bose in hierdie wêreld regeer en floreer, maar God het die laaste sê.

Ons word aangemoedig om vandag ook soos Nabot te wees. Dit maak nie saak wie ook al druk op ons uitoefen nie, ons moet altyd gehoorsaam wees aan God selfs al kom dit ons duur te staan. Mag ons altyd deur die krag van die Heilige Gees in ons lewens gehoorsaam wees aan God.

Gebed: Here, help my om altyd gehoorsaam te wees aan U, al is die gevolge miskien onregverdig. Dankie dat u Woord my daaraan herinner dat geregtigheid sal seëvier. Amen

Previous article: Lewe en voorsped of dood en verderf - 30 September 2015 Prev Next article: Hanteer uitputting - 28 September 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.