Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewe en voorsped of dood en verderf - 30 September 2015

Xanthe Hancox

Die afgelope maand het ons gelees van God se volk wat onder leiding van hulle konings en profete óf die pad van geloof in en gehoorsaamheid aan God gevolg het, óf die pad van ongeloof en opstand. Die periode van die konings begin met Salomo en vervul dit wat die Here deur Moses gesê het: “Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.  Deuteronomium 30:15-16

Met die uitsondering van 'n paar konings en profete, het Israel egter deur oorlog en afvalligheid dood en verderf gekies.

Ons is nie seker wie die boeke van die Konings geskryf het nie, maar die bronne wat gebruik is, is geskryf deur ooggetuies van en deelnemers aan die gebeure. Dit was betroubare inligting en histories akkuraat wat Israel betref, van die dood van Dawid en Salomo wat hom opgevolg het tot die vernietiging van die tempel en Jerusalem deur die Babeloniërs.

Die boek Konings is nie net 'n akkurate weergawe van die geskiedenis nie, maar dit interpreteer ook die geskiedenis. Die skrywer, 'n banneling in Babel, wou graag die lesse uit die geskiedenis van Israel met die bannelinge kommunikeer. Hy wou spesifiek die kinders van die Here leer oor God se oordeel en hoekom hulle in ballingskap was. Dit het hy gedoen deur die geskiedenis van twee groepe konings en twee nasies van ongehoorsame mense, Israel en Juda. Beide hierdie nasies was al hoe meer onverskillig teenoor die wet van die Here en daarom op pad na gevangenskap.

Al die verhale wat ons gelees het – Salomo se opkoms en ondergang, die bou van die tempel, die toename van afgodediens en die verdeling van die koninkryke, Elia wat die Baälprofete vernietig het – is alles neergeskryf om die volk van Israel en van Juda een belangrike les te leer: bly getrou aan God.

Dit is 'n les wat ons ook moet leer: besluit om die Here te volg, vandag en elke dag van jou lewe.

Gebed: Here, dankie vir die lesse wat ons uit die Ou Testament kan leer. Netsoos die geval met Israel en Juda, is ek ook dikwels selfsugtig, arrogant en ongehoorsaam. Vader, vergewe my daarvoor. Help my om getrouer, gehoorsamer en meer gereed te wees om vandag, waar ek ook al is, u werk te doen. Amen

Previous article: Wie is God? - 1 Oktober 2015 Prev Next article: Gehoorsaamheid en geregtigheid - 29 September 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.