Wie is God? - 1 Oktober 2015
Louise Gevers
"In die begin het God die hemel en die aarde geskape." Génesis 1:1
Ek is mal oor verjaarsdae. Óf dit nou die viering van die wonder van lewe op aarde is op die dag dat 'n baba gebore word, óf die viering van die verjaarsdag van 'n mens sewentig jaar later, dit is altyd 'n tyd van vreugde en feesviering. Selfs relatiewe vreemdelinge sal saam in die geluk en vreugde deel. Die lewe is kosbaar en 'n unieke geskenk aan elke individu.
Dink ons ooit aan die dag toe die aarde gebore is, toe die lewe in sy vele vorme tot stand gekom het? Of die van die hemel? Wat 'n fees! Aanvaar ons nie as vanselfsprekend die dinge wat ons in ons wêreld beleef sedert die begin van ons lewens nie – dinge wat ons selde bevraagteken? Dikwels is dit hierdie dinge wat ritme aan die lewe op aarde gee: die dag kom na die nag, winter word lente, en dit verskaf stabiliteit. Hoewel ons dalk kla dat die somer vanjaar laat is, of dat dit 'n baie koue winter is, oorweeg ons skaars Wie vir alles verantwoordelik is en die wonder dat hierdie dinge enigsins gebeur!
Ons weet net dat ons uit helder blou lug en warm sonlig voordeel trek. Ons kan ons verlustig in die skoenlappers wat op pragtige bloeisels sit en ook in die gezoem van die bye rondom laventelbosse. Ons is lief om na voëls te kyk wat vrolik tjirp terwyl hulle gretig rondwip op soek na wurms. Ons snak na asem wanneer ons die vars lug op ons gesigte voel terwyl ons in verwondering na die majestieuse berge wat bo ons uittroon staar; ons word betower deur die ritmiese polsing van die golwe en die deurskynende water wat teen die rotse skuim en slaan. Dit is maar 'n klein prentjie van alles wat geskape is om ons te inspireer!
In die heel eerste sin van die Bybel, word ons getref deur die ongelooflike eenvoud van die woorde wat die skrywer gebruik om van daardie belangrike verjaarsdag in die geskiedenis te vertel, toe alles gebore is! Hy stel dit baie saaklik omdat hy dié Een ken wat oor alle inspirasie, wysheid, kennis en mag beskik om die wêreld met al sy grootse prag tot stand te bring. Ken jy Hom ook?
Wie is God?
Gebed: Wonderlike Skepper, ons staan in verwondering voor U! Dankie vir die prag van u skepping wat ons elke dag geniet. Help ons om met oë van geloof na U te kyk en in ons begrip van u grootheid en liefde te groei. In Jesus se Naam. Amen