Wie is God? (2) - 2 Oktober 2015
Louise Gevers
Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. Psalm 139:14
"Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef." Psalm 139:13
Indien ek getaak was om hierdie psalm vir plasing in die Bybel neer te skryf, sou ek waarskynlik vers 14 voor vers 13 geplaas het want my hart loop oor met lof vir God, my Skepper, omdat ek die volmaaktheid van sy handewerk ervaar. Maar dit neem niks weg van dit wat ek voel wanneer ek erken dat Hy my binneste wese geskep het in die warmte en veiligheid van my moeder se skoot nie.
Wat 'n ongelooflike ding om in die skoot van jou moeder aanmekaargeweef te word; vir elke deel van ons anatomie om in plek geplaas te word om vir nege maande te groei totdat daardie wonderlike oomblik van die geboorte aanbreek! Watter beter plek is daar om beskerm te word, met ongelooflike potensiaal vir versorging en waar 'n band tussen ma en kind kan groei? Kan jy jou voorstel hoe dit moet voel om uit ‘n eier te broei wat buite in die tuin lê, of in 'n dam ronddobber? Kan jy jou die intelligensie voorstel van die brein wat hierdie wonder beplan en uitgevoer het?
Ons as mense aanvaar soveel dinge as vanselfsprekend. Het jy al ooit 'n oomblik geneem om die wonderlike manier waarop ons liggame werk, te oordink? Nie net is daar groot getalle selle wat met presisie op elke oomblik van elke dag en elke nag werk om te verseker dat alles funksioneer om ons aan die lewe te hou nie, maar ook om kwaliteit van lewe te verseker.
Ons het 'n verstand om te dink, 'n hart om emosie te voel, 'n gees om die abstrakte werking van die Goddelike te kan waardeer en vyf sintuie, sig, gehoor, reuk, smaak en tas, wat ons in staat stel om elke lewenservaring te kan ervaar. En wanneer ons seerkry, is daar ook maniere waarop ons kan genees. Ons is nie net saamgevoeg om te bestaan nie. Ons Skepper wil hê dat ons ons die lewe in oorvloed sal leef. Ons is die werk van die beste Ambagsman in die heelal!
Wie is hierdie bedrewe Ambagsman?
Gebed: Almagtige Skepper, ons loof U, omdat U ons volmaak geskape het en elke deel van ons wese ken. Open ons oë om u grootheid te kan sien sodat ons U in elke aspek van ons lewe op hierdie aarde kan ervaar. In die Naam van Jesus. Amen