Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is God?(3) - 5 Oktober 2015

Louise Gevers

“Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.”  Génesis 17:1

En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem. Jakobus 2:23

Wat is die eerste byvoeglike naamwoord waaraan jy dink wanneer jy aan God dink? 

Ek dink dit is redelik om te sê dat vir baie mense in die postmoderne wêreld dit 'n woord soos grootheid, krag, heerlikheid, mag, majesteit of prag sal wees, maar vir baie ander, miskien vir diegene wat "sien is glo” onderskryf en wat aan God se bestaan twyfel, sal daar geen geskikte woord wees nie of miskien net 'n vraagteken. Maar by die gelowige bestaan daar geen twyfel nie, God is Almagtig en niemand is sy gelyke nie.

Vanaf die skepping van die wêreld word God as die Opperwese erken; die Een met wie niks of niemand vergelyk kan word nie want Hy alleen is almagtig, alwetend, alomteenwoordig, en daarom onvergelykbaar! Lees ons in Génesis dat God aan die nege en negentig jaar oue Abram verskyn het en Homself as die Almagtige God aan hom geopenbaar het, verstaan ons dat dit vir Abram 'n oorweldigende ervaring moes gewees het. Tog het Abram nie gesterf nie! Dit verstom 'n mens dat die Almagtige God 'n gewone mens sou kies om mee te praat en om op 'n groot en wonderbaarlike manier deel te hê aan sy lewe. God het egter 'n rede vir die besoek aan Abram gehad, want Hy het 'n ontsaglike groot doel vir sy lewe gehad.

God het besluit om uit Abram 'n groot nasie te laat voorkom sodat alle mense op aarde deur hom geseën kon word, want deur die Joodse nasie het God Homself in die vorm van Jesus Christus aan die ander volke op aarde geopenbaar. Waar pas jy in? God se besoek aan Abram het sy lewe verander en hy word nou in die geskiedenis as 'n vriend van God erken. Wat 'n ongelooflike gedagte: 'n vriend van die Almagtige God! Is jy sy vriend?

Deesdae besoek God ons deur sy Seun. Dit is net deur Jesus Christus dat ons lewens verander kan word en dat ons Hom kan ken.

Wat sê dit vir ons van God?

Gebed: Wonderlike God, dit verstom ons wanneer ons besef dat U werklik in ons belangstel en met ons, u skepsels, in 'n verhouding wil wees. Dankie dat U vir ons omgee en ons ophef sodat ons daagliks in u teenwoordigheid kan wees en elke deel van ons lewe met U kan deel deur Jesus Christus, ons Here.  Amen

Previous article: Wie is God? (4) - 6 Oktober 2015 Prev Next article: Wie is God? (2) - 2 Oktober 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.