Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is God? (4) - 6 Oktober 2015

Hy wat my sien

Louise Gevers

Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is 'n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.” Genesis 16:13

'n Naam is baie belangrik. Dit is die wyse waarop 'n persoon as 'n individu uitgesonder word en waardigheid ontvang; niemand wil ooit sy hele lewe lank na verwys word as 'seun', 'meisie' of 'dit’ nie. Jou naam bepaal wie jy is; dit is hoe jy aan mense voorgestel word en hoe hulle dan na jou verwys.

'n Naam beteken gewoonlik ook iets wat dikwels in die persoonlikheid of karakter van die eienaar weerspieël word. Verwagtende ouers het die moeilike taak om 'n naam, waardig vir hulle baba, te kies en dit neem soms 'n volle nege maande om dit te doen.

In die bogenoemde Skrifgedeelte, het ons die verrassende voorbeeld van Hagar, 'n jong slavin, wat 'n naam aan God gee. Hy is vir haar "die God wat my sien". Sy gebruik nie 'n enkele eienaam nie, maar wel haar ervaring van een van sy eienskappe.

Sy het nie, soos Abram, die voorreg gehad dat God haar persoonlik besoek het nie, maar God se optrede het tog aan haar bewys dat Hy net so bewus was van haar, die slavin, as wat Hy van haar meester, Abram, was. Trouens, dit was die ongeduld van Abram en sy vrou, Sarai, om God se belofte in hul oënskynlik hopelose situasie vervul te sien, wat Hagar in die eerste plek in hierdie ernstige verknorsing laat beland het.

Die Here het Abram belowe dat Hy 'n menigte nasies uit sy nageslag sou bou, selfs al was Sarai onvrugbaar en te oud om swanger te word. Abraham en Sara het menslike redenasie en logika gebruik om God se belofte te interpreteer, en sodoende besluit om Sara se jong slavin te gebruik om die kind te voorsien. Toe God, op sy beplande tyd, die wonderwerk laat gebeur en Sara geboorte aan Isak geskenk het, is Hagar en haar seun, Ismael, na die woestyn verban. Hulle sou daar gesterf het, was dit nie vir die versorging van God wat hul desperate situasie gesien en hulle gered het nie.

Ons beleef almal oomblikke wat ons hulpeloos voel, broos, weerloos en alleen, soos Hagar, en ons wonder of iemand enigsins weet of omgee dat ons bang en desperaat is. Vertrou ons op 'die God wat my sien' om ons te red?

Wie is God vir my?

Gebed: Alsiende God, U sien my in my eie unieke situasie en U alleen ken my behoeftes. Help my my asseblief om raak te sien hoe U in elke aspek van my lewe werk, deur Jesus Christus, die Here.  Amen

Previous article: Wie is God (5) - 7 Oktober 2015 Prev Next article: Wie is God?(3) - 5 Oktober 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.