Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is God (5) - 7 Oktober 2015

Die Een wat lewens verander

Louise Gevers

Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel , want jy het teen God en teen mense 'n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.” Genesis 32:28

… het God weer aan hom verskyn en hom geseën. God het vir hom gesê: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees.” God het hom toe Israel genoem. God het verder vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word 'n groot nasie. Baie nasies sal van jou afstam. Jy sal die voorvader wees van konings. Genesis 35:9b-11

Het jy al ooit daaraan gedink om jou naam te verander? Sou jy dit verander as dit sou beteken dat deur dit te doen jy nuut kan begin?

'n Mens kry nie dikwels iemand wat dwarsdeur sy lewe heeltemal tevrede met sy naam is nie, maar die meeste mense sal, met verloop van tyd, aan hul naam gewoond raak en dit as volwassenes behou, selfs al is dit nie wat hulle self sou gekies het nie. Dit gebeur egter wel dat mense die moeite doen om hul naam te verander, want dit bevat konnotasies wat hulle verkies om te vergeet. Miskien was daar ook aan Jakob se naam konnotasies geheg wat eerder vergeet moes word, en dit is God self wat die verandering van sy naam vir hom aankondig, en wel op so 'n manier dat dit vir hom nuwe status gee.

In die Bybel is daar geen aanduiding wat Jakob van sy naam gedink het nie, maar in hierdie gedeeltes in Genesis 32 en 35 lees ons van die twee geleenthede wat God aan Jakob verskyn en aangekondig het dat, omdat Jakob hom waardig bewys het, Hy sy naam gaan verander en dat met die nuwe naam groot seën sou kom. 'n Mens wonder hoekom dit belangrik was vir God om 'n man se naam te verander en wat leer dit ons van God se karakter?

Ons besef dat God 'n plan vir die mens het en dat Hy oor die mag beskik om lewens te verander, maar met hierdie verandering gee Hy ook 'n nuwe begin en wis dit wat vooraf gebeur het uit. Vroeër in Genesis lees ons dat Jakob nie 'n baie eerlike karakter was nie. Hy was sy ma se gunsteling en hy is aangemoedig om op 'n bedrieglike wyse sy tweelingbroer, Esau, se geboortereg te verkry deur vir sy bejaarde pa 'n leuen te vertel om sodoende sy seën te bekom. Ongelukkig het hierdie sonde vyandskap tussen hulle veroorsaak wat meegebring het dat Jakob vir twintig jaar in ballingskap was.

Maar toe God sy naam verander het, het Hy vir Jakob 'n nuwe begin gegee en 'n nuwe karakter om na te streef. Deur God se genade was dit vir Jakob moontlik om sy verlede agter te laat en vorentoe te gaan in volle vertroue op God wat hom geseën het.

Wie is God vir my?

Gebed: God van verandering, U alleen het die mag om my lewe te verander. Verander my asseblief in 'n persoon wat deur my veranderde hart en houding U met blydskap dien. In die naam van Jesus.  Amen

 

Previous article: Wie is God (6) - 8 Oktober 2015 Prev Next article: Wie is God? (4) - 6 Oktober 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.