Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is God (6) - 8 Oktober 2015

Die Een wat roep

Louise Gevers

Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, 'n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het. Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vlam binne-in 'n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. En Moses sê vir homself: “Ek wil tog 'n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?” Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.”  Eksodus 3:1-5

Die roeping wat Moses van God ontvang om sy volk uit Egipte te lei, was vir Moses op alle vlakke 'n ontsaglike groot ervaring, en 'n openbaring van hoe God werk. God, wat nie beperk word deur aardse grense nie, het Moses op 'n bonatuurlike wyse geroep en hom van veewagter tot leier verhef.

Hierdie Skrifgedeelte beklemtoon elemente wat vandag vir baie mense vreemd is, ten spyte van die feit dat hulle geldig is in die lewe. Dit wissel van die gewone tot die goddelike: herder, kleinvee, God, wonderwerke, geroep word, respek en heilige grond.

Alhoewel stadsbewoners nie dikwels aan veewagters wat kleinvee oppas dink nie, sal 'n besoek aan die meer landelike dele van die land dit duidelik maak dat baie mans en jeugdiges in die heuwels en langs die paaie steeds hierdie belangrike taak verrig. Moses, wat in die farao se paleis in Egipte grootgeword het, is nou 'n veewagter wat sy skoonvader se kleinvee versorg. Hy het nie geweet dat hy eintlik in opleiding was om God se uitverkore volk uit Egipte te lei nie en dat hy, as herder, hierdie groot getal mense deur die woestyn moes laat trek nie!

Op hierdie stadium van sy lewe het sy status nie net van prins tot nederige herder geval nie, maar hy het ook weg van die huis gewerk om vir sy familie te voorsien. Sommige mense sal vandag heel moontlik hierby aansluiting vind. God roep hom terwyl hy 'n nederige werk doen.

Moses sien 'n wonderlike ding gebeur: 'n bos wat brand, maar nie uitbrand nie. Hoekom? Want God is daar! Hy verander die natuurlike orde om Homself aan Moses te openbaar. God se teenwoordigheid in hierdie situasie maak dit 'n buitengewone ervaring. God het geen grense nie, en Hy is op die punt om iets buitengewoon in Moses se lewe te doen. Hy roep Moses by die naam en beveel hom om sy sandale uit te trek. Moses gehoorsaam want hy staan op heilige grond – hy deel grond met God! Vir sommige mense mag dit vreemd klink.

Is ons van die buitengewone in ons lewens bewus? Luister ons na God om te hoor wanneer Hy ons naam roep? Is jy gereed vir sy aanspraak op jou lewe of dink jy dat jy te gewoon is omdat jy nie 'n begrip van wie God is, het nie, of soos Moses, eers ver weg moet gaan om 'n ontmoeting met Hom te hê. Ons kan reeds in 'n heilige plek wees sonder om dit te weet.

Wie is God?

Gebed: Wonderlike, onbeperkte God, dankie dat U gewone mense roep tot 'n buitengewone lewe in U. Help my om te hoor wanneer U my roep. Amen

Previous article: Wie is God? (7) - 9 Oktober 2015 Prev Next article: Wie is God (5) - 7 Oktober 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.