Wie is God? (8) - 12 Oktober 2015
Die Waarheid
Louise Gevers
God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie? Numeri 23:19
Ek is die HERE wat geregtigheid spreek, wat regte dinge verkondig.
Jesaja 45:19 (b) (1933/1953-vertaling)
Vertel jy leuens? Het jy beloftes gemaak wat jy nie kan hou nie, of waarvan jy dalk vergeet het?
Die bogenoemde Skrifgedeelte verwys juis na daardie iets wat die mens in wese van God skei, en kontrasteer die gevalle menslike natuur met die goddelike natuur van God. Dit is daardie kwaliteit van waarheid wat so belangrik is en wat mense so moeilik vind om te vervul. Nie alle leuens is noodwendig opsetlik nie. Soms vertel mense leuens om ander te beskerm, of maak 'n onbesonne belofte net om 'n moeilike situasie te systap, en is dan, as gevolg van veranderde omstandighede, nie in staat om daardie belofte te hou nie; maar meestal is dit iets wat mense doelbewus doen en dikwels hulself en ander in die proses seermaak.
Oral in die lewe sal jy mense vind wat ly as gevolg van 'n leuen, of leuens, en leuens is nie beperk tot kinders wat nie van beter weet nie, of tot misdadigers wat 'n probleem het om die regte ding te doen, of kompulsiewe leuenaars wat sielkundige probleme het nie. Dit maak geen verskil wat die motivering is nie, leuens gaan hand aan hand met bedrog, pretensie, oneerlikheid, kullery en ander oortredings en selfs die mees gerespekteerde mense in die mees gerespekteerde plekke maak hulle hieraan skuldig.
Hoe wonderlik is God nie! Hy ervaar nooit hierdie probleem nie! Hoekom lieg God nie? Hoekom kom Hy altyd sy beloftes na? Want Hy is volmaak en sy integriteit is deel van wie Hy is. Hy het nie nodig om te lieg nie: Hy hoef aan niemand rekenskap te gee nie; Hy het nie nodig om iemand te beïndruk nie. Hy is goed en Hy is die Een wat volkome betroubaar is. Wanneer Hy iets gesê het, is dit die waarheid en Hy sal nooit sy mening verander nie. Sy integriteit kan nie bevraagteken word nie.
Die mens, intendeel, is altyd aan iemand verantwoordelik (selfs sou hy verkies om dit nie te erken nie). Anders as God, is die mens swak en feilbaar en bevind hom dikwels in situasies waar hy voel dat hy moet lieg om sy waardigheid te behou, of nie erken dat hy iets verkeerd gedoen het nie, net sodat ander kan dink hy is beter as wat hy regtig is. Wat 'n bejammerenswaardige situasie!
Ons moet God persoonlik ken sodat ons daagliks sy absolute waarheid en volmaaktheid in ons stukkende wêreld kan ervaar en met nuwe oë na die wêreld kan kyk. Ons het hierdie lewensveranderende ervaring nodig!
Gebed: Genadige Here, spreek asseblief U waarheid in ons gevalle lewens. Amen.