Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is God? (9) - 13 Oktober 2015

Die Voorvegter

Louise Gevers

Moenie vir hulle bang wees nie, want die Here jou God is by jou en Hy is 'n groot en magtige God. Deuteronomium 7:21

Die Here julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg, om julle die oorwinning te laat behaal. Deuteronomium 20:4

Die Israeliete het by 'n opwindende, maar tog vreesaanjaende, stadium in hul geskiedenis as God se uitverkore volk gekom. Hulle was op die punt om die Beloofde Land binne te gaan, die vervulling van God se belofte te beleef, maar hulle was vreesbevange omdat hulle die sewe nasies wat dit reeds besit het en wat groter en sterker as hulle was, moes verdryf voordat hulle hulle daar kon vestig.

Ons weet almal dat die geskikste en sterkste oorleef en kan dus baie goed identifiseer met die uitdagings wat die Israeliete, as die kleiner groepie, moes oorkom. Ons hoor dikwels van situasies waar swakker groepe deur die sterker groep tot onderdanigheid gedwing word, óf dit nou in die natuur, politiek of op die speelgrond is. Soms, soos byvoorbeeld in die geval van politieke aggressie, kan die swakker groep uiteindelik uitgewis word. Dit is geen wonder dat die kleiner groepies kwesbaar en vreesbevange voel en 'n behoefte aan beskerming het nie. Miskien het jy al iets daarvan ervaar.

Dit was ook nie anders met Israel nie. Net soos twee opponerende sportspanne selfs voordat die wedstryd begin, reeds weet wie die sterker een is, so het die Israeliete, 'n klein groepie stamme wat vir jare in die woestyn was, geweet dat 'n gedugte vyand op hulle wag. Maar hulle was God se volk.

Hulle het 'n "Voorvegter" gehad: die Een wat hulle deur Moses uit Egipte geroep het ‑ God, die Here self. Hy verseker hulle van sy liefde vir hulle, herinner hulle daaraan dat in die uitvoer van sy plan, hulle getalle nie vir Hom saak maak nie. As hulle Verlosser, en op grond van sy belofte aan hulle voorvaders, beloof Hy dat Hy saam met hulle sal wees om teen hulle vyande te veg en vir hulle die oorwinning sal gee. Wat 'n wonderlike God!

Wat dit vir ons van God sê is dat Hy 'n passie vir sy volk en hulle welsyn het. Hy is so besorg oor hulle dat hy 'n "Voorvegter" vir hulle sal wees. Hy weet dat hulle swak en min in getal is, maar Hy word nie deur hierdie eksterne dinge geraak nie; Hy wys net sy mag en krag al hoe meer. Vandag is Hy steeds besorg oor sy kinders en veg steeds vir hulle!

As jy aan God behoort, hoef jy nooit bang te wees vir die uitdagings wat oor jou pad kom nie, want God is steeds 'n "Voorvegter" vir sy kinders!

Wie is God? Is Hy jou "Voorvegter"?

Gebed: Dankie Here God, dat U my "Voorvegter" in Jesus Christus is. Amen.

Previous article: Wie is God? (10) - 14 Oktober 2015 Prev Next article: Wie is God? (8) - 12 Oktober 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.