Wie is God? (10) - 14 Oktober 2015
Die Wonderwerker
Louise Gevers
"Ek jubel in die Here, ek is sterk in die Here. Ek lag my vyande uit, ek is bly oor die uitkoms wat U gegee het. Daar is geen heilige soos die Here nie, buiten U is daar nie een nie, daar is geen rots soos ons God nie. 1 Samuel 2:1-2
Vreugde is daardie diepgaande emosie wat in 'n persoon ontstaan as gevolg van uiterste geluk wanneer iets wonderliks gebeur. Dit is so 'n diepgaande emosie dat 'n persoon selfs, wanneer dit iets baie betekenisvol is, in trane kan uitbars, soos byvoorbeeld by die troue van 'n kind, of wanneer hy of sy die nuus kry dat hulle van kanker genees is, of dat na baie jare van wag iemand hoor dat hy of sy uiteindelik 'n huis gaan kry.
In Nehemia 8:11, sê Nehemia aan die verbanne Israeliete om nie te treur nie, want "as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm”, wat wys dat vreugde in God ‘n mens selfs deur moeilike tye kan dra.
Hanna se groot blydskap maak dat sy God uit haar hart uit loof soos haar gebed hierbo getuig. Haar blydskap is triomfantelik want God het gehoor toe sy Hom gesmeek het om haar onvrugbaarheid weg te neem en Hy het vir haar 'n kind gegee; hierdie is egter nie haar gebed toe sy gehoor het dat sy swanger is nie ‑ toe sou ons van haar verwag om opgewonde te wees. Hierdie is haar gebed toe sy haar jong seun Samuel na Eli, die priester, geneem het om hom aan God terug te gee en so haar gelofte aan Hom na te kom.
Sy jubel omdat God haar desperaatheid gesien het, haar gebed verhoor en haar geseën het, en sy is nou verheug om in die posisie te wees waar sy haar gelofte aan God kan nakom. Haar mededinger, Peninna, kan haar nie meer oor haar onvrugbaarheid spot nie, maar sy verlustig haar in die Here, en keer op keer loof sy Hom met haar hele hart.
Wanneer jy besef dat daar Iemand is wat kragtig is en in staat is om enigiets te doen, selfs die onwaarskynlikste in jou omstandighede, en dat Hy genoeg vir jou omgee om vir jou te voorsien en jou gebede te beantwoord, gaan dit nie jou hart met vreugdevolle lof laat oorloop nie?
Gebed: O Here, niemand is heilig soos U nie. U is die Rots waaraan ons vashou en in elke moeilike situasie is U daar vir ons. Ons loof U met groot blydskap omdat U in al ons behoeftes voorsien en ons red, selfs wanneer slegs 'n wonderwerk sal kan help. Dankie dat U ons reeds liefhet en net vra dat ons moet glo en op u onverganklike liefde moet vertrou. Ons bid dit in Jesus se Naam, Amen.