Wie is God? (11) - 15 Oktober 2015
Inspekteur van harte
Louise Gevers
Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” I Samuel 16:7
Isai het hom laat haal. Hy het 'n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en 'n goeie voorkoms. Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.”Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan. I Samuel 16:12-13
Voorkoms, op alle vlakke, is vir ons belangrik. Ons het sekerlik almal reeds die situasie ervaar waar spanne gekies word en elke leier moet uit ‘n groep dié wat die grootste, vinnigste of mees bedrewe is, kies om sy span vol te maak. Soos minder en minder oorbly word dit al hoe ongemakliker, want almal, insluitende die wat nog nie gekies is nie, weet dat hulle nie so vaardig beskou word as diegene wat reeds gekies is nie.
Die seuns van Isai moes 'n soortgelyke ervaring gehad het toe God Samuel gestuur het om die volgende koning van Israel vanuit hulle geledere te kies. In hierdie geval egter word een vir een van hulle weggewys soos Samuel onderskei wat God se wil is.
Die eerste van die bogenoemde verse verwys na Elíab, oudste seun van Isai, wat Samuel baie beïndruk het, maar nie God se keuse was nie. Om die waarheid te sê Die Here se reaksie was dieselfde wat al sewe Isai se seuns betref. Hulle moes al hoe moedeloser geraak het toe hulle besef dat net die jongste, Dawid, oorgebly het en werklik, wie wil nou deur hom regeer word? Hulle het hom skaars as 'n man beskou want hy is net gestuur om hulle vader se skape op te pas, terwyl hulle as soldate opgeroep is om vir Saul, die huidige koning, te veg.
Dit is interessant dat toe Dawid daar aankom nadat sy pa hom op versoek van Samuel uit die veld laat roep het, is dit duidelik dat hy 'n mooi jong man is, maar nog belangriker, dat hy die een is wat God uitgekies het op grond van die houding van sy hart. Die een wie Hy deur sy Gees sal kan bemagtig.
Verder in 1 Samuel lees ons, toe die leër van Saul teen die Filistyne veg, staan Dawid uit tussen almal, want hy is die enigste een wat die uitdaging van die groot vegter van die Filistyne, die reus, Goliat, as 'n belediging vir God sien en aanbied om teen hom te veg, terwyl die ander soldate, insluitende sy broers, te bang is.
Wat sê dit vir ons van God?
Gebed: Almagtige God, dankie dat U nie soos ons is nie. U keuse is volmaak, want U kyk na die hart en nie na die uiterlike voorkoms nie, U kan dus nie mislei word nie. Dankie dat U diegene wat U kies, bemagtig. Gee dat ons in dié wete sal rus en op u onverganklike liefde sal vertrou. In Jesus se Naam. Amen