Wie is God? (12) - 16 Oktober 2015
Ons Leier
Louise Gevers
Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs. Jesaja 30:21
Die lewe is 'n reis wat die mens onderneem vir die aantal dae wat aan hom op hierdie aarde gegun word. Dit is 'n opwindende reis omdat ons vryheid van keuse gegee word en besluite kan neem soos ons vorder. Partykeer is dit egter ook 'n eensame reis vol uitdagings.
Ons almal weet dat selfs as ons op die eenvoudigste reis gaan, kan dit net suksesvol wees as ons die regte roete kies en nie langs die pad verdwaal nie! Stel jou voor hoe 'n honger gesin sal voel as die moeder van die huis kruideniersware vir aandete in die dorp gaan koop en dan verdwaal en net na donker met leë hande terugkeer? Of wat sal gebeur as jy 'n dringende besigheidsvergadering in Londen moet bywoon en die vliegtuig land in China?
Ek weet dat baie van julle dink dat die bogenoemde scenario's hoogs onwaarskynlik is, maar besef julle hoekom dit onwaarskynlik is? 'n Mens verwag tog van verantwoordelike en vindingryke mense om voorbereid te wees en boonop is daar wigte en teenwigte langs die pad. Daar is dinge wat jou op jou reis help, soos padtekens en kaarte, en mense wat rigting kan aandui, soos die polisie en lugverkeerleiers. Trouens, soms aanvaar ons net alles wat vir ons gegee word, as vanselfsprekend.
Net soos ons rigtingaanwysers benodig en op die infrastruktuur van ons dorpe en stede staatmaak om dit fisies vir ons te gee, het ons sekerlik ook geestelike leiding en rigting nodig. In Mattheus 7:13 word ons gewaarsku, "Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie." Waar vind 'n mens uit wat die smal poort is en hoe om daardeur in te gaan? Is dit nie soms 'n versoeking om hierdie aspek van die lewe te ignoreer nie, want dit verlang van ons om te dink en spiritualiteit is ook iets wat tyd neem om te beoefen? God voorsien sy Woord en baie predikante om ons te help.
Weer eens moet elkeen van ons onsself vra: "Wie se stem hoor ek wanneer ek na regs of na links afwyk en die reguit pad verlaat?" Wie is dit wat so baie vir ons omgee dat as ons net aandagtig na daardie stil, rustige stem luister, sal ons hoor: "Hier is die pad, loop hier langs."?
Gebed: Liewe Vader, baie dankie dat U ons op ons reis deur die lewe lei. Help ons om elke tree van die pad na u stem te luister. Amen.