Wie is God? (13) - 19 Oktober 2015
Groot Gedagtes
Louise Gevers
My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here;soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. Jesaja 55:8-9
Wanneer 'n mens hierdie skynbaar eenvoudige woorde in die boek van die profeet, Jesaja, vir die eerste keer lees, lyk dit asof alles duidelik is, maar wanneer jy oor die betekenis begin nadink besef 'n mens waarom daar so baie dinge in die lewe en in die Bybel is wat ons nie verstaan nie. Kyk ons na die skitterende opdragte, wette, gedigte, profesieë, spreuke en verhale wat die Bybel bevat, verstaan ons in 'n geringe mate iets van God se groot gedagtes, maar ons erken nie altyd dat Hy ons Skepper is en dat Hy nie altyd volgens ons begrip handel nie. Diegene wat in Hom glo en 'n pad saam met Hom loop, sal erken dat hulle soms dinge ervaar wat net sin maak as daar met 'n geloofsoog daarna gekyk word.
Wanneer 'n mens daaraan dink hoe ver die hemel van die aarde is, is dit duidelik dat die woordprentjie in ons teks probeer om die groot verskil tussen ons menslike verstandjie in vergelyking met die volmaakte begrip van God aan te dui, en dus ons optrede soos dit verband hou met ons verstand en die van God soos dit verband hou met Syne.
Ouers, onderwysers, en om die waarheid te sê, enige persoon wat iets moet oordra aan diegene wat, vir watter rede ookal, nie op dieselfde vlak as hulle is nie, sal weet hoe verkeerd dinge kan loop as gevolg van 'n misverstand, of die blote verontagsaming van instruksies. Baie kinders voel dit is onregverdig as hulle ontneem word van sekere goed wat hulle vriende wel toegelaat word, of as hulle skole daarop aandring dat hulle die reëls gehoorsaam. Hulle is nie in staat om die groter prentjie te sien nie; dat dit in werklikheid is omdat hulle ouers en skool hulle welstand op die hart dra.
Dink byvoorbeeld hoe 'n eenvoudige middagplesier om met die hond te gaan stap in 'n nagmerrie kan verander as die hond, in sy "wysheid", sy leiband ontglip om al die plekke waar sy baas hom nie toelaat nie, te gaan ondersoek: daardie deel van die park waar die kwaai honde is, of die besige hoofweg aan die einde van die welige groen veld waar daar nie 'n heining is nie. Duidelik is die hond van hierdie plesier vir sy eie beswil en veiligheid ontneem, maar netsoos 'n kind nie sy ouers se optrede kan verstaan nie, kan die hond ook nie sy baas verstaan nie.
Gebed: Here, help ons om nederig te wees en om u groot wysheid as 'n seën vir ons hier op aarde te aanvaar. Amen.