Wie is God? (14) - 20 Oktober 2015
Is jy God?
Louise Gevers
“Julle moenie in hoogmoed bly praat nie, moenie aanmatigende dinge sê nie, want die Here is ‘n God van diepe kennis, dade word deur Hom getoets.” 1 Samuel 2:3
Het jy al opgemerk hoe sommige mense baie lief vir die klank van hul eie stemme is? Daar is geen ruimte in hul gesprek vir iemand anders om 'n mening te waag nie, want vir die spreker is hyself en sy eie filosofieë allesoorheersend.
Dit is beslis reg dat mense hulleself voorstel, beskryf wat hulle doen en hulle kundigheid verduidelik as hulle gevra word om dit te doen. Maar waarna ek hier verwys, is die persoon wat so vol van sy eie belangrikheid is dat hy die menings van ander ignoreer, nie nederig genoeg is om te besef dat hy net een klein deeltjie van 'n geheel is nie, en nie bedagsaam genoeg om die belangrikheid van ander in ag te neem en vir hulle ook 'n spreekbeurt te gun nie. Verwaandheid kan natuurlik in baie verskillende situasies voorkom, maar dit is gewoonlik baie opmerklik in 'n situasie soos hier beskryf.
Die bogenoemde Skrifgedeelte verwys direk na hierdie probleem en verduidelik dit vanuit God se perspektief: Hy weet wat ons doen en Hy oordeel ons aksies. Spreuke 21:2 beklemtoon dit verder: "In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg, maar die Here toets die gesindheid." Ons besef weer die groot verskil tussen God se gedagtes en ons gedagtes. In vers 4 word daar geen doekies omgedraai nie: "Die sonde van goddeloses begin altyd met selfverheffing en eiewaan.”
Gereelde selfondersoek is nodig. Ons moet ons gedrag ondersoek en seker maak dat trots en verwaandheid nie in ons denke en optrede ingeglip het nie.
Om nederig te wees, is nie maklik nie. Nederigheid maak dat ons eerlik na onsself moet kyk en ten spyte van alles wat ons bereik het, gebreke in ons lewens moet erken. Dit laat ons soms onwaardig voel aan ons roeping in die lewe want daar is altyd meer om te leer en dit laat ons ongemaklik voel. Tog is dit hoe ons voor God moet wees want deur ons gebreke te erken, stel Hy ons in staat om deur sy krag te werk, om groot dinge te bereik en ryklik geseën te word. Die heerlikheid kom Hom egter toe en ons mag nooit trots en verwaand wees oor wat ons bereik nie.
Hoekom is God hieroor besorg?
Gebed: Regverdige God, U sien ons presies soos ons is. U weet dat wanneer ons trots en verwaand is, is dit nie reg nie want dan gee ons nie aan U die eer wat U toekom nie en ons ontneem onsself van u seën. Help ons om onsself voor U te verootmoedig en in 'n regte verhouding met U te leef. Amen.