Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is God? (16) - 22 Oktober 2015

Die God wat sorg

Louise Gevers

Sing 'n lied tot eer van God, sing tot eer van sy Naam, maak 'n pad vir Hom wat op die wolke ry, en jubel voor Hom wie se Naam Here is. ’n Vader vir weeskinders en 'n beskermer van die reg van weduwees is God in sy heilige woning.God laat eensames in 'n huisgesin woon en lei gevangenes uit na vryheid, maar wie teen God in opstand is, woon in 'n kaal woestyn. Psalm 68:4-6

Van die begin van die maand het ons op Skrifgedeeltes gefokus wat aan ons openbaar wie God is en oor watter eienskappe Hy beskik. Vandag se gedeelte noem 'n wonderlike en diverse, maar geensins volledige, aantal van sy eienskappe: majesteit, heerlikheid, krag, sagmoedigheid, regverdigheid, beskermer, bevryder en regter.

'n Mens besef daar is niemand soos God nie, niemand wat eers byna al hierdie dinge tegelykertyd vir so baie mense op so 'n grootse skaal kan wees nie! Hierdie eienskappe teken 'n wonderlike prentjie van hoe Hy alles met begrip, toegewyd en moeiteloos balanseer en alles ten goede van almal in 'n volmaakte orde hou.

Let daarop dat God se kinders opgeroep word om sy lof te besing wanneer hulle op al sy volmaakte deugde fokus. Hoe verskil dit nie van die beeld wat ons het van die chaotiese wêreld waarin ons leef en wat sy fokus op God verloor het nie. Ons sien niks van die harmonie wat meegebring kan word deur regverdige leiers wat omgee en versorg en hulle aan God onderwerp nie. Trouens, die woorde van Maleagi 2:10 bestraf ons: “Ons het tog almal een Vader, ons is tog deur een God geskep? Waarom is die een dan ontrou aan die ander en ontwy hulle die verbond van God met ons voorvaders?"

Alhoewel hierdie gedeelte na die verbond tussen God en Abraham, Isak en Jakob, die voorvaders van die Israeliete verwys, is dit ook op ons wêreld van toepassing, want God is Skepper en Vader van alle mense; die Een wat sy skepping onpartydig versorg en genoeg omgee vir sy kinders om vir hulle Vader, Beskermer, Voog, Bevryder en Regter te wees.

God se plan is dat almal versorg en deel van sy plan van verlossing moet wees. Hy het die wêreld wat Hy geskep het lief en sluit Homself hierby in. Hy is 'n liefdevolle Vader wat altyd byderhand is! Hy sorg altyd vir ons, Hy voorsien vir ons en laat ons nooit in die steek wanneer ons moeilike tye beleef nie.

Diegene wat hul aardse vader verloor het, en vroue wat hul mans verloor het, kan van God se getrouheid, sorg en voorsiening in hul lewens getuig, dikwels op 'n verstommende manier. God kan volkome vertrou word wanneer Hy sê: “Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red ... " (Jesaja 46:4)

Dwarsdeur die Bybel sien ons hoe God vir sy kinders sorg. Dit is egter in die Nuwe Testament dat sy rol as Vader werklik geopenbaar word wanneer Hy sy Seun, Jesus Christus, na die wêreld stuur, om mense van hulle sondes te red.

Wie is God?

Gebed: Ons Vader, ek het U in my lewe nodig. Dankie vir wie U vir my is.  Amen.

Previous article: Wie is God? (17) - 23 Oktober 2015 Prev Next article: Wie is God? (15) - 21 Oktober 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.