Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die ryk man en Lasarus - 11 November 2015

Neville Turley

In sy leringe het Jesus op 'n meesterlike manier woordprentjies gebruik en die gelykenis oor die ryk man en Lasarus (Lukas 16:19-31) is 'n treffende voorbeeld hiervan.

Die ryk man word beskryf as iemand wat die deftigste klere gedra het en elke dag feestelik en weelderig geleef het. Lasarus het niks gehad nie. Hy het by die ryk man se deur gelê in die hoop dat hy van die oorskietkos sou ontvang. Hy het nie eers die krag gehad om die honde weg te jaag wat aan al sy swere kom lek het nie.

Die kontras tussen die ryk man en Lasarus duur voort na hulle dood. Lasarus is deur die engele weggedra na die hemel; die ryk man is verdoem tot die hel.

Deur hierdie gelykenis gee Jesus vir ons insig in wat gebeur wanneer ons te sterwe kom. Daar is net twee bestemmings, of die hemel of die hel.

Hierdie gelykenis is ook die enigste een waar Jesus 'n naam gee aan een van die karakters en 'n mens wonder hoekom? Lasarus beteken "God is my helper". Miskien het Jesus daardie naam gebruik om te beklemtoon dat ongeag jou omstandighede, God altyd jou helper en steunpilaar is.

Hoekom het Jesus sy fiktiewe ryk man karakter tot die hel verdoem? Gemeet aan wêreldse standaarde lyk dit nie of die ryk man 'n slegte persoon was nie; hy het byvoorbeeld baie vir sy broers omgegee en wou dat iemand hulle gaan waarsku sodat hulle nie ook in die plek van pyniging beland nie.

Hy was ook nie doelbewus wreed teenoor Lasarus nie. Hy het hom nie mondelings of fisies misbruik of beledig nie. Hy het nie omgegee dat Lasarus van sy oorskietkos kry nie.

Die ryk man se belangrikste doel was om sy weelderige leefstyl te geniet. Lasarus was eenvoudig nie deel van sy wêreld nie en die ryk man het heeltemal onverskillig gestaan teenoor Lasarus wat honger voor sy deur gelê en ly het.

Miskien het Jesus die ryk man nie veroordeel oor dit wat hy gedoen het nie, maar wel oor dit wat hy nie gedoen het nie.

Ons vers vir vandag stel dit baie duidelik: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.” (Matteus 25:45-46

Gebed: Ons dank U dat U ons gekies het om vandag u hande en voete in die wêreld te wees. Here, help ons om nooit onverskillig te staan wanneer daar geleenthede oor ons pad kom om diegene in nood te help nie. In u Naam bid ons dit. Amen

Previous article: Die grootste gebod - 12 November 2015 Prev Next article: 'n Geskenk van God - 10 November 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.