Gee om vir diegene in nood - 13 November 2015
Neville Turley
Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” Markus 12:31
In Lukas se weergawe van die Groot Gebod, word daar na 'n wetsgeleerde verwys wat aanmekaar, maar sonder sukses, vir Jesus strikvrae probeer stel het. Die wetsgeleerde het toe probeer om 'n verskoning vir sy aksies te kry deur te vra "En wie is my naaste?" (Lukas 10:25-29)
Dit is 'n vraag wat sommige gelowiges vandag steeds vra. Die antwoord is egter vandag steeds dieselfde as die antwoord wat Jesus vir die wetsgeleerde gegee het.
Jesus het 'n gelykenis vertel. Die agtergrondvan hierdie gelykenis is die pad tussen Jerusalem en Jerigo. Oor die eeue heen was dit 'n gevaarlike pad waar rowers reisigers aangeval en beroof het en dan die woestyn ingevlug het.
Daar is vier karakters in hierdie storie van Jesus – 'n reisiger, 'n priester, 'n Leviet en 'n Samaritaan. Die reisiger word geweldadig aangeval, beroof, sy klere word uitgetrek en hy word halfdood agtergelaat. 'n Priester kom verby en toe hy die slagoffer sien, ignoreer hy hom deur aan die anderkant van die pad te stap.
Die Leviet het darem genoeg omgegee om hom raak te sien, maar toe het hy ook aan die anderkant van die pad verbygegaan.
Die Samaritaan het toe op die man afgekom. Hy het die beseerde man bitter jammer gekry en olie en wyn op sy wonde gegooi en hom na 'n herberg geneem. Die volgende dag doen hy nog meer. Hy betaal die herbergier om in sy afwesigheid na die gewonde man om te sien.
Jesus se vraag aan die wetsgeleerde was wie van hierdie drie volgens hom opgetree het soos die beseerde man se naaste. Die wetsgeleerde se antwoord was: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”
Jesus het hom toe geantwoord: “Gaan maak jy ook so.” Hierdie opdrag van Jesus geld ons almal. Ons moet ook omgee en medelye bewys aan diegene in nood.
Gebed: Almagtige God, U het ons na u beeld gemaak. Help ons om u skepping met eerbied te behandel en skenk aan ons harte wat omgee vir diegene wat U oor ons pad bring om te help. In Jesus se Naam. Amen