Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Van 'n klein begin - 16 November 2015

Neville Turley

“Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”  Matteus 13:31-32

In hierdie gelykenis verseker Jesus die dissipels dat die koninkryk van die hemel sal groei. Dit was die aanmoediging en motivering wat die twaalf op daardie stadium uiters nodig gehad het. Hulle Meester het toenemende vyandigheid en kritiek van die Joodse owerhede ondervind. Sy lewe is bedreig en die skares het begin om Hom te verlaat.

Jesus was 'n meester om God se skepping te gebruik om bybelse waarhede te illustreer. In hierdie gelykenis vestig Hy die dissipels se aandag op die mosterdplant. Dié plant het klein swart saadjies. Sowat 720-750 saadjies weeg ongeveer een gram. Ten spyte van die klein saadjies groei hierdie plant vinnig en wanneer dit volgroei is, is dit die grootste plant in die kruiefamilie. Dit kan so hoog soos 2,7 meter word. Voëls, veral vinke, vreet graag die saad van hierdie plant.

Dit is baie gepas om die koninkryk van die hemel met 'n mostertsaadjie te vergelyk. Van 'n klein begin het die aantal mense wat in Jesus glo vinnig toegeneem. Dit het met die twaalf dissipels begin. In Handelinge 1:15 lees ons dat toe Petrus 'n vergadering belê het om Judas te vervang, was daar 120 gelowiges.

Daar is vandag na raming sowat 2,3 miljard Christene in die wêreld (Christianity 2015: Religious Diversity and Personal Contact / International Bulletin of Missionary Research, Januarie 2015). Beslis vinnige groei as 'n mens in ag neem dat minder as 'n miljoen dae verloop het sedert die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus.

Die Christendom is op mars en elke gelowige het 'n rol om te vervul. Maak seker dat jy nie te lig bevind word nie.

Gebed: Hemelse Vader, ons verdien dit nie, maar U het ons geroep om U te dien. Skenk asseblief, deur u Heilige Gees, aan ons die krag om die goeie nuus van u koninkryk met ander te deel. Ons bid dit in die Naam van u Seun, ons Here Jesus Christus. Amen

Previous article: Die krag van invloed - 17 November 2015 Prev Next article: Gee om vir diegene in nood - 13 November 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.