Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die krag van invloed - 17 November 2015

Neville Turley

“Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou gevat en in 'n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”  Matteus 13:33

Jesus vergelyk die invloed van die koninkryk van die hemel met suurdeeg. Wanneer die suurdeeg in die meel gemeng word, beïnvloed dit die hele skottel meel en die deeg begin rys.

Deur die eeue was daar Christene wat 'n positiewe invloed op alle aspekte van die samelewing uitgeoefen het.  Jesus het gesê: "Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie." Christene volg in sy voetspore en was nog altyd op die voorpunt om die lot van kinders te verbeter.

In Jesus se tyd op aarde het kinders geen regte gehad nie; sy ouers moes met Hom na Egipte vlug toe Herodes alle babaseuntjies wou doodmaak. Kindermoord was algemeen, veral wanneer daar gebreke by die baba was.

Seneca (4 vC – 65 nC), 'n Romeinse filosoof, het op 'n keer geskryf: "… Ons verdrink kinders by geboorte wanneer hulle te swak of abnormaal is. Dit is nie woede nie, maar rede." (On Anger 1.15.2)

Babadogtertjies was veral weerloos. 'n Brief van 'n Romeinse soldaat aan sy verwagtende vrou lui: "Ek is steeds in Aleksandrië. … Wanneer jy geboorte gee en dit is 'n seun, hou hom, indien dit 'n dogterjie is, raak ontslae van haar."

Christene het ander waardes. 'n Baba, of dit nou 'n seuntjie of dogtertjie is, is na die beeld van God geskape en baie kosbaar. Rome het nie saamgestem nie. Dit het baie oortuiging gekos voordat Keiser Valentinianus in die vierde eeu gehoor gegee het aan die pleidooie van biskop Basilius van Sesarea en die wet verander het om kindermoord regdeur die Romeinse Ryk te verbied.

Na 400 jaar het die Christelike invloed geseëvier!

Vandag is regerings, kerke, kinderbeskermingseenhede en die publiek dit eens dat kinders die reg het om versorg en beskerm te word. Die invloed van die koninkryk van die hemel is steeds duidelik wanneer mense Christelike waardes en normes by hulle wette en lewenstyl insluit.

Aan God al die eer.

Gebed: Almagtige God, gee dat ons eie Christelike getuienis ander so sal beïnvloed dat hulle U sal aanneem en in hulle lewens u Seun sal navolg. Ons bid dit in sy Naam. Amen

Previous article: Vra jou Vader - 18 November 2015 Prev Next article: Van 'n klein begin - 16 November 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.