Vra jou Vader - 18 November 2015
Neville Turley
“Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Lukas 11:9
Jesus het so pas sy dissipels leer bid. Hy het hulle (en vir ons) geleer dat God hulle Vader is en dat sy kinders direk tot Hom kan nader.
En dan om hierdie punt te beklemtoon, vertel Hy 'n gelykenis. Stel jou voor jy gaan in die middel van die nag na 'n vriend se huis toe om drie brode te gaan leen. 'n Ander een van jou vriende het by jou opgedaag na 'n lang reis en jy het geen kos om vir hom te gee nie.
Die vriend waar jy om hulp gaan aanklop en sy gesin is egter reeds in die bed en hy weier om op te staan om jou te help. Jy is egter so desperaat vir hulp dat jy aanhou klop en pleit dat hy jou moet help. Uiteindelik staan hy op om vir jou die brood te gee, nie omdat jy sy vriend is nie, maar omdat hy wil hê jy moet ophou om sy huishouding te steur.
Hoe geseënd is ons nie dat ons 'n Vader in die hemel het na wie toe ons enige tyd van die dag of nag kan gaan. 'n Vader wat ons nie as 'n steurnis beskou nie, maar wat altyd gereed is om te luister en in ons beste belang op te tree. 'n Vader wat die groter prentjie sien en ons nie noodwendig altyd ons sin gee nie. Netsoos ouers hulle kinders beskerm deur nie vir hulle iets te gee wat hulle kan seermaak nie, so ook beskerm God ons Vader ons teen onsself deur nie dit wat Hy weet tot ons uiteindelike nadeel is, vir ons te gee nie.
Jesus was volkome gehoorsaam aan die wil van sy Vader. Hy leer ons dit in die Onse Vader-gebed en weer wanneer Hy in die tuin van Getsemane bid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” (Lukas 22:42)
Ons moet voortdurend bid om God se wil vir ons lewens te soek.
Gebed: Hemelse Vader, gee dat u Heilige Gees voortdurend u wil aan my sal openbaar sodat ek U deur my lewe kan verheerlik deur Jesus Christus, u Seun. Amen