Ons is almal sondaars - 19 November 2015
Neville Turley
Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie. Jesaja 29:13
Jesus het ook 'n gelykenis vertel vir diegene wat glo dat hulle so 'n bietje beter as die res is. Die gelykenis speel af in die tempel in Jerusalem en die twee karakters in die storie is 'n Fariseër en 'n tollenaar wat na die tempel toe is om te gaan bid.
Die woord Fariseër beteken "hulle wat afgesonder is". Hulle was die professionele godsdienstige mense van hulle tyd. In hulle ywer om heiligheid en geregtigheid te bekom, het hulle iets soos 248 godsdienstige wette en 345 verbodsbepalings by die 10 gebooie gevoeg.
Dit het elke aspek van hulle lewens geraak, van watter klere hulle mag aantrek tot hoe hulle hulle hande was.
Tollenaars, daarenteen is met minagting behandel. In die oë van die Jode was hulle die drek van die samelewing. Hulle is as oneerlik en korrup beskou en hulle is gehaat vir die swaar belastings wat hulle met die goedkeuring van Rome ingesamel het.
Toe die Fariseër opstaan om te bid, was sy gebed geheel en al selfgesentreerd: "O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: … nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste."
Die tollenaar se gebed was geheel en al op God gefokus. Hy was so vol berou, en het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’
Jesus sê: “Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.” (Lukas 18:9-14)
Kom ons leer by ons Meester. Ons is almal sondaars. Wanneer ons bid, moet ons nederig ons sondes bely en Hom smeek om ons te vergewe.
Gebed: Genadige God, skenk aan ons die genade om dit wat ons verkeerd doen, raak te sien en ons na U te wend om ons te vergewe. Vervul ons met u Heilige Gees. Amen