Kry jou prioriteite reg - 20 November 2015
Neville Turley
“Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Lukas 12:15
Jesus se waarskuwing oor die sonde van gierigheid is vandag steeds so relevant as toe Hy dit gesê het.
Jesus vertel van 'n ryk man wie se grond goed gedra het. Sy oes was so in oorvloed dat hy besluit het om sy skure af te breek en groter skure te bou om die oortollige graan en ander goed in te stoor. Hy het ook beplan om, wanneer al die bouwerk voltooi was, af te tree en homself te geniet want hy het mos voorsiening gemaak. Hy is egter daardie selfde nag oorlede.
Die gelykenis van die ryk dwaas is 'n ernstige waarskuwing aan ons almal om ons prioriteite reg te kry.
God plaas elkeen van ons op aarde met 'n doel en dit betaam ons om sy wil vir ons lewens te soek. Die ryk man word uitgebeeld as 'n volkome selfgesentreerde individu wat glad nie in God belangstel nie.
Dit lyk ook nie of hy 'n man is wat vir sy naaste omgee nie. In die samelewing waarin hy geleef het, moes daar baie minderbevoorregte mense gewees het. Het hy dit oorweeg om hulle te help? Glad nie, inteendeel hy het besluit om groter skure te bou. Die groot skure sou hom in staat stel om al die surplus voorraad vir sy eie gebruik te stoor. Hy wou alles vir homself gehad het.
Jesus vertel ons hier van 'n man wat net meer en meer aardse besittings vergader het en toe gaan hy dood voordat hy dit kon geniet.
Dit is wel ons verantwoordelikheid om te beplan vir wanneer ons nie langer kan werk nie, maar ons moet egter onthou dat dit nie saak maak hoe lank ons aftrede gaan duur nie, dit gaan kort wees in vergelyking met die tyd wat ons in die ewigheid gaan deurbring.
Ons moet die Here se raad ter harte neem en vir ons rykdom in die hemel aanskaf (Lukas 12:32-34). Die Bybel leer ons hoe om dit te doen.
Gebed: Here, ons Verlosser, vul ons met u Heilige Gees sodat ons vir ons skatte in die hemel kan vergader. Dit bid ons in Jesus se Naam. Amen