Gebruik dit of verloor dit - 23 November 2015
Neville Turley
‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. Matteus 25:21 (1933/53-vertaling)
Hoe bly gaan ons nie wees wanneer aan die einde van ons lewens, die Here ons met hierdie woorde tuis verwelkom nie. Ons vers vir vandag kom uit die gelykenis van die drie diensknegte (Matteus 25:14-30)
Jesus vergelyk die koninkryk van die hemel met 'n man wat na 'n ver land gereis het. Hy wou seker maak dat sy besittings versorg sou word, so hy het aan elkeen van die drie diensknegte 'n gedeelte toevertrou om volgens hulle vermoëns te bestuur.
Een van die diensknegte het vyf talente ontvang, die ander twee talente en die derde een het net een talent ontvang. Die eerste twee het hard gewerk en die belegging wat aan hulle toevertrou is, verdubbel. By sy terugkoms het die meester hulle pogings geprys en hulle daarvoor beloon.
Die man wat net een talent ontvang het, het geen poging aangewend om dit te laat groei nie. Sy flou verskoning was dat hy die meester as 'n harde man ken en omdat hy bang was, het hy eerder die talent in die grond begrawe om aan die man te kan teruggee.
Die man was woedend oor die dienskneg se gedrag. Hy was selfs te lui om die geld te deponeer om rente te verdien. Hy beveel toe dat die een talent van hom weggeneem word en aan die een met 10 talente gegee word. Die nuttelose dienskneg is toe verwerp.
God het aan elkeen van ons volgens ons vermoëns talente toevertrou. Ons sal geoordeel word oor hoe ons dit ontwikkel en gebruik het. Dit is 'n waarskuwing waaraan ons gehoor moet gee. Dit is 'n geval van gebruik dit of verloor dit. Die man wat nie eers sy een talent wou gebruik nie, het dit verloor.
Hierdie gelykenis is 'n uitdaging vir ons om voorraad op te neem van ons talente, vaardighede en gawes. Hoe gebruik ons dit in diens van ons Here en Meester?
Gebed: Almagtige God, skenk aan ons wysheid sodat ons deur die leiding van u Heilige Gees altyd ons geloof volgens u wil sal uitleef. Amen