Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dra vrugte vir Jesus - 24 November 2015

Neville Turley

Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”  Lukas 3:9

Elke keer wat 'n mens van 'n noodlottige ongeluk hoor, is jy diep bewus daarvan dat ons almal net een hartklop weg is van die dood. Jesus het op 'n keer sy gehoor herinner aan die 18 mense wat dood is toe die toring van Siloam op hulle ineengestort het. En toe, om te beklemtoon dat dit noodsaaklik is om die sonde te bely en van dit weg te draai, het Hy vir hulle die verhaal vertel van die vyeboom wat nie vrugte gedra het nie.

Die gelykenis vertel van 'n man, sy tuinier en die vyeboom. Die man verteenwoordig God en die tuinier is Jesus. Die boom verteenwoordig beide die Joodse nasie en alle individue wat vir jou en my insluit.

Die man het vir drie jaar tevergeefs gewag vir die vyeboom om vrugte te dra. Hy het ongeduldig geraak en vir die tuinier gesê om die boom uit te kap. Die tuinier het toe gepleit dat die man hom nog 'n kans moet gee om die grond rondom die boom te bewerk en te bemes. "Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.” (Lukas 13:9)

Die Jode was God se uitverkore volk. Hy het sy heerlikheid aan hulle openbaar en 'n verbond met hulle gesluit. Hy het die Wet aan hulle gegee, sy profete na hulle toe gestuur, en steeds het hulle nie volgens sy wil geleef nie. Toe stuur Hy sy seun, Jesus.

Dit was die finale kans vir die mensdom om deur Jesus God aan te neem. Om Jesus aan te neem is om God aan te neem.  Draai jy jou rug op Jesus, beteken dit jy draai jou rug op God.

Daar is twee sake wat ons moet oorweeg. Ons moet seker wees dat ons verhouding met God reg is. Dan moet ons onsself vra wat ons vir God beteken? Is ons vrugbaar in sy diens?

Daar is baie maniere om die goeie nuus van Jesus Christus met ander te deel. Sommige van ons doen dit deur die Bybelgenootskap se Bybel-per-Maand Klub. Op dié manier help ons om Bybels beskikbaar te stel, want ons weet dat sy woord sal nie onverrigter sake na Hom toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Hy gedoen wil hê. (Jesaja 55:11)

Dit is 'n wonderlike manier om vrug te dra vir Jesus.

Gebed: Almagtige Vader, Seun en Heilige Gees wys aan ons die beste manier om u Naam te verheerlik, om U te loof en prys.  Amen

Previous article: Die belofte van Jesus - 25 November2015 Prev Next article: Gebruik dit of verloor dit - 23 November 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.