Die belofte van Jesus - 25 November2015
Neville Turley
Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. Filippense 4:8
In die donkerte van die nag wanneer ons baie weerloos voel, gebeur dit soms dat ons gedagtes ook baie donker en negatief is.
Jesus het op 'n keer 'n gelykenis vertel van 'n onrein gees wat in 'n persoon gewoon het. Die gees het die man verlaat op soek na 'n rusplek. Toe hy nie 'n rusplek kon vind nie, het hy gesê: "Ek gaan terug na my huis waaruit ek weggegaan het."
By sy terugkeer vind hy die huis onbewoon, skoon en aan die kant. Die onrein gees gaan haal toe sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek saam met hom in en gaan woon daar. Dit het toe nog slegter gegaan met die man waar hulle gewoon het. (Matteus12:43-45)
Hierdie gelykenis van die onrein gees wat teruggekeer het was 'n les vir die bose mense van sy dag asook vir elkeen wat sy lewe wil verbeter. Soos ons ontslae raak van donker gedagtes en negatiewe invloede moet ons dit vervang met 'n positiewe houding en dade wat eer aan God bring. Ons moet ons lewens op gesonde waardes en 'n Geesvervulde geloof herbou. Doen ons dit nie kan ons maklik weer in ons ou, verkeerde weë verval.
Die enigste manier om van ons slegte gedagtes en verkeerde gewoontes ontslae te raak, is om ons lewens te rig op dit wat Jesus Christus ons leer. Ons het ook die belofte van Jesus dat ons dit nie op ons eie en uit eie krag hoef te doen nie. Ons sal elke tree van die pad gelei word. "Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees." (Johannes 14:16-17)
Gebed: Almagtige God, gee aan ons die genade om nie die werke van die duisternis te doen nie maar die wapenrusting van die Lig aan te trek. Ons bid dit in die Naam van Hom wat saam met U en die Heilige Gees regeer, een God vir nou en altyd. Amen