Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 18 November

HUIDIGE REEKS: Ontdek God . . . van A-Z. Ons kyk elke dag na ’n ander letter van die alfabet en koppel dan God se eienskappe daaraan. Vandag is dit die letter “N”.

N = NUUT. Lees meer van die interessante terugvoer van lesers onderaan. Stuur ook jou idees vir “N” na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

DAG 14: GOD MAAK ALLES NUUT

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Ek ontvang gereeld e-posse van lesers wat vertel hoe ’n verslawing – hetsy hulle eie of dalk dié van ’n geliefde – verwoesting in ’n huisgesin kan saai. Verkeer jy vandag in ’n soortgelyke situasie? Hier is ’n getuienis van ’n leser wat deur God se genade sy drankverslawing oorkom het.]

Pieter: “Ek was 24 jaar lank ’n drankverslaafde. Saam met drank kom die vyand met leuens dat ander vroue altyd ‘beter’ as jou eie vrou is. Ek is skaam om te erken dat my huwelik gevul was met leuens, buite-egtelike verhoudings, depressie, wanbesteding en vele ander verwoestende elemente.

“My lewe het agteruitgegaan. In ’n stadium was ek vir vier agtereenvolgende dae dronk en het ek R4,000 aan drank bestee. In hierdie tyd het ek my oudste seun aangerand en my jongste seun se hart gebreek. My gesin was gebroke.

“My vrou het my vir ’n egskeiding gedagvaar en met net my klere aan my lyf het ek met my bakkie by my broer opgedaag. My lewe was aan skerwe en ek het geweet dat ek die oorsaak hiervoor was. In sak en as het ek my afhanklikheid van God begin besef. Ek was moeg om van Hom af weg te hardloop. Ek was moeg om altyd almal rondom my teleur te stel. In trane het ek op my knieë neergegaan en Hom gesmeek om my lewe nuut te maak. Ek sal nooit sy teenwoordigheid in die vertrek vergeet nie.

“Mettertyd het ek vryheid van die drank en sigarette begin verkry. Hoe verder ek van my wêreldse leefstyl weggestap het, hoe meer het my liefde vir my vrou en kinders gegroei. Dit was asof ek met nuwe oë na hulle begin kyk het.

“Ná ’n tyd weg van mekaar, het ek en my vrou weer begin praat. Ons het albei geweet dat ’n lang pad vir ons voorgelê het om die gebreekte vertroue te herstel, maar deur God se genade het sy die egskeiding teruggetrek en kon ons saam vorentoe kyk. Vir die eerste keer kon ons met vrymoedigheid oor dinge gesels wat ons jare lank in ons huwelik vermy het.

“Ek moes van voor af ’n verhouding met my seuns begin bou. My oudste het my as pa verwerp omdat ek hom gevloek en aangerand het. Dit het my geweldig seergemaak, maar weer moes ek leer om verantwoordelikheid vir my dade uit die verlede te neem terwyl ek God vir ’n wonderwerk vertrou.

“Ek het besluit om ses maande lank koffie (’n groot liefde van my) te vas terwyl ek desperaat gebid het dat God my gesin sou herstel. Hy het my gebed verhoor en oor die maande wat gevolg het, het ek telkens verstom gestaan oor hoe God een na die ander van my gebede beantwoord het. My verhouding met my vrou het begin blom en vir die eerste keer het ek my seuns leer ken.

“Dit is vandag amper vier jaar sedert God my van drank en sigarette bevry het. ’n Tyd gelede het ek my seun by die jeugaksie by die kerk gaan haal. Hy het my vertel dat ’n man daar getuig het oor hoe God hom van sy dwelmverslawing vrygemaak het. My seun het na my gedraai en gevra of ek nie ook my getuienis daar sou kom deel nie. Aanvanklik was ek bang dat hy dalk skaam sou voel, maar sy woorde aan my het my diep geraak: ‘Nee, Pa. Ek is nie skaam vir jou verlede nie. Jy is die wonderlikste pa in die wêreld.’

“Vandag weet ek dat niks vir God onmoontlik is nie. Hy het my nie net van my verslawing vrygemaak nie, maar Hy het aan my ’n nuwe lewe saam met Hom gegee. Alle eer aan Hom.”

Pieter is reg. As God ingryp, maak Hy ons vry van enige houvas wat ’n verslawing of sonde op ons lewens mag hê. Luister weer na hierdie teksverse:

  • Psalm 103:12: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.”

  • Jesaja 44:22: “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.”
  • 1 Johannes 1:9: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

God maak ons lewens NUUT. Hy kan ons van enige verslawing vrymaak. Noem dit: drank, pornografie, kos, dwelms. Daarby gee Hy ook aan ons hoop in ons harte vir ’n beter toekoms. Het jy vandag ’n deurbraak nodig? Waarom vra jy Hom nie ook om in jou situasie in te gryp nie? Sterkte.

Vader God, baie dankie dat niks ooit te groot is vir U om te vergewe nie. Al wat U vra is ’n hart wat opreg jammer is en kies om van die sonde weg te draai. Help my asseblief om U in elke situasie in my lewe eerste te stel. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

NUUSBROKKIE:

1.      BESTEL NOU: Jy kan Benescke se boek, Ontdek God in die stories van mense, nou aanlyn by www.kalahari.net bestel. Jy behoort dit binne vier werksdae te ontvang. Dit is die ideale Kersgeskenk.

2.      AGT DAE OM TE GAAN . . . Moenie Benescke se boekbekendstelling op Donderdagaand 25 November by die Wordsworth in die Willow Bridge-sentrum in Durbanville misloop nie. Dit begin 18:00 vir 18:30. Kom ontmoet haar en kry jou getekende kopie. Die boek, Ontdek God – in die stories van mense, sal by CNA, PNA, Exclusive Books en Wordsworth beskikbaar wees. Jy kan dit ook aanlyn by www.kalahari.net bestel.

3.      HUIDIGE REEKS: Jy kan elke dag deelneem deur jou voorstelle vir elke letter na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. te stuur. Aan die einde van die week word die kreatiefste deelnemer vir die week gekies.

INTERESSANTE TERUGVOER VAN LESERS OOR “N”:

Hier is ’n paar hoogtepunte uit lesers se e-posse. Gaan lees gerus meer terugvoer op ons webwerf, www.versndag.co.za.

  • NAGWAG – Hy slaap nooit nie
  • NAVIGATOR – Hy hou my lewe op koers
  • NEKTAR – U Woord is so soet soos heuning
  • NEUTRALISEER die sonde van Sy kinders
  • NUUSWAARDIG – Daar gaan nie ‘n dag verby wat ek nie vir ander van Hom vertel nie!
  • Naald – God hou met ‘n naald alles bymekaar en vas
  • Nader – Ons beweeg nader aan God en aan mekaar wanneer ons God deel van ons leefstyl maak
  • Naam – Die kinders van God se naam is op Sy hand palms geskrywe
  • Naaste – Ons moet ons naaste lief he soos onsself – dit is God se opdrag aan ons
  • Naasteliefde – Ons moet mekaar en ons naaste lief he soos onsself – dit is God se opdrag aan ons
  • Nalatenskap – God se nalatenskap aan ons is Sy Woord en die Ewige Lewe
  • Noodhulp – God is ons noodhulp tassie, met al die pleisters en salfe om ons seer gesond te maak en weg te neem
  • Nommer 1 – God is nommer 1 in Sy kinders se lewens

VORIGE STUKKE? Kry van die vorige dagstukkies op ons webwerf, www.versndag.co.za.

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God jou onlangs of in die verlede gehelp het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. As dit aansluit by een van ons temas, sal ons dit graag met die lesers wil deel. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 19 November Prev Next article: Vers n dag - 17 November Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.