Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 19 November

HUIDIGE REEKS: Ontdek God . . . van A-Z. Ons kyk elke dag na ’n ander letter van die alfabet en koppel dan God se eienskappe daaraan. Vandag is dit die letter “O”.

O = ORAL. Lees meer van die interessante terugvoer van lesers onderaan. Stuur ook jou idees vir “N” na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

DAG 15: GOD MAAK ALLES NUUT

Deur Benescke Janse van Rensburg

[AGTERGROND: Die temas van trauma, genesing en vergifnis was tot in Februarie 2010 nie deel van die bekende aanbiddingsleier, Louis Brittz se getuienis wanneer hy mense bedien het nie. Dít het egter verander toe gewapende rowers in Februarie vanjaar vroegoggend sy studio betree het. Hier is Louis se verhaal:

Louis: “Teen 02:00 was ek steeds besig om in my studio wat in ons huis in ’n sekuriteitskompleks in Pretoria geleë is, gesit en werk. Ek sou die volgende oggend oorsee vertrek en moes ’n spesifieke projek afhandel voordat ek vertrek. Meteens het vier gewapende rowers in my studio gestaan. Met hulle wapens het hulle my forseer om op die grond te lê. Hierna het hulle begin om die rekenaars en toerusting se proppe uit te trek om dit te roof.

“Op die grond het my hart vinnig geklop terwyl ek hardop bid. Ek kon in my gees ervaar hoe die Heilige Gees my versterk en my met wysheid lei om te weet waarvoor om spesifiek te bid. Minute later het die rowers my geneem na waar my vrou, Hettie aan die slaap was. Met wapens op my gerig het ek na haar afgebuk, haar wakker geskud en vir haar gesê: ‘In die Naam van Jesus Christus sal hierdie mans ons nie seermaak nie.’ Hettie het bonatuurlik kalm gebly.

“Terwyl een van die rowers by Hettie in die kamer gebly het, het die ander rowers my uit die vertrek geneem. ’n Paar minute later was die voertuig vol toerusting gelaai. Hulle het my forseer om by die sekuriteitskompleks uit te ry om te verhoed dat die sekuriteitspersoneel onraad bemerk.

“In ’n stuk veld ’n end weg van ons huis het die rowers my beveel om uit die motor te klim. Hoewel ek in my gees geweet het dat God heeltyd by my was, was ek nie seker of ek daardie aand sou sterf nie. Ek het deurentyd met God gesels. Ek het Hom vir my vol lewe tot op daardie stadium gedank. Ook vir die reise en avonture en dat ek as sy instrument kon beleef hoe mense se lewens verander wanneer hulle Hom leer ken. Ek het Hom gevra dat sou ek sterf, Hy asseblief na my gesin moes omsien. Dáár in die veld, met wapens op my gerig, het God my herinner dat hoewel die rowers die gewere vashou, Hy die sleutel van lewe en dood vashou. Oomblikke later het die rowers weggejaag en my net daar in die veld gelos.

“Half 5 daardie oggend het ek eindelik by die huis ingestap. Hier het Hettie die nuus met my gedeel dat een van die rowers haar verkrag het. Ek kan nie die gevoel van bitterheid, kwaad, skuldgevoel en magteloosheid beskryf wat ek op daardie oomblik ervaar het omdat ek nie daar was om dit te keer of om haar te beskerm nie. Ons het mekaar in trane vasgegryp en besluit om dadelik die rowers vry te spreek. Ons wou keer dat woede en bitterheid ’n houvas op ons kry. Deur ons trane het ons vir God gesê dat ons nie verstaan hoekom dit gebeur het nie, maar dat ons kies om Hom te vertrou. Ons het Hom ook gevra dat sy Naam in die proses verheerlik sou word.

“Toe die gebeurtenis in die nuus verskyn, het duisende Christene wêreldwyd saam met ons gebid en voor God gehuil, terwyl hulle Hom ook gevra het om die situasie ten goede te laat meewerk. Die Here het ons gebede verhoor.

“Vandag, maande later, staan ons in verwondering, nie net oor hoe Hy ons deur hierdie swaar tyd gedra het nie, maar ook oor hoe Hy ons bonatuurlik genees het. Hy het ons beide se gees ongedeerd hiervan laat afkom en gekeer dat die vyand se brandpyle in die vorm van bitterheid, onvergifnis en woede nie aan ons vasklou nie. Ek het oorleef! Hettie het nie vigs nie! En vandag gebruik Hy hierdie getuienis om vryheid te bring aan mense wat soms al vir dekades in skuldgevoelens en seer vasgevang was. Alle eer aan Hom.”

  • Jeremia 23:24: “Ek is nie 'n God wat net naby is nie, sê die Here, Ek is 'n God wat ook ver weg is. Niemand kan in 'n geheime plek wegkruip sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here.”

  • Hebreërs 4:13: “Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë.”

Louis is reg. God is oral. Wanneer ons deur ’n dal van doodskaduwee stap is Hy langs ons. En wanneer ons aan die anderkant uitkom, lig Hy ons op sodat ons van sy goedheid kan getuig. Gaan jy tans deur ’n krisis? Gaan jy Hom vra dat sy Naam ook deur jou swaarkry verheerlik sal word?

Vader God, baie dankie dat U oral is en dat niks in die heelal vir U verborge is nie. Help my asseblief om in elke situasie – goed en sleg – te onthou dat U by my is deur u Heilige Gees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

NUUSBROKKIE:

1.      BESTEL NOU: Jy kan Benescke se boek, Ontdek God in die stories van mense, nou aanlyn by www.kalahari.net bestel. Jy behoort dit binne vier werksdae te ontvang. Dit is die ideale Kersgeskenk.

2.      6 DAE OM TE GAAN . . . Moenie Benescke se boekbekendstelling op Donderdagaand 25 November by die Wordsworth in die Willow Bridge-sentrum in Durbanville misloop nie. Dit begin 18:00 vir 18:30. Kom ontmoet haar en kry jou getekende kopie. Die boek, Ontdek God – in die stories van mense, sal by CNA, PNA, Exclusive Books en Wordsworth beskikbaar wees. Jy kan dit ook aanlyn by www.kalahari.net bestel.

3.      HUIDIGE REEKS: Jy kan elke dag deelneem deur jou voorstelle vir elke letter na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. te stuur. Aan die einde van die week word die kreatiefste deelnemer vir die week gekies.

INTERESSANTE TERUGVOER VAN LESERS OOR “O”:

Hier is ’n paar hoogtepunte uit lesers se e-posse. Gaan lees gerus meer terugvoer op ons webwerf, www.versndag.co.za.

  • OFFER – Jesus Christus is as die offer gebring vir ons sondes.
  • OMKERING – Met God in ons lewens is daar ’n omkering na ’n lewe wat God altyd eerste stel.
  • ONTDEKKER – God is die Skepper en die Ontdekker van die Hemel en die aarde.
  • ONTELBAAR – God se liefde en seen vir ons is Groot en “ontelbaar”.
  • OMHULSEL – God se liefde vou soos ‘n omhulsel om ons lewens en ons rus in Sy seen en beskerming.
  • OPPERMAG – God is die Oppermag van die Hemel en die aarde.

VORIGE STUKKE? Kry van die vorige dagstukkies op ons webwerf, www.versndag.co.za.

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God jou onlangs of in die verlede gehelp het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. As dit aansluit by een van ons temas, sal ons dit graag met die lesers wil deel. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 22 November Prev Next article: Vers n dag - 18 November Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.