Oorweeg al die nadele - 26 November 2015
Neville Turley
“Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” 2 Timoteus 3:12
Jesus sê dat om een van sy dissipels te wees ook nadele mag meebring en Hy beklemtoon dat ons dit moet oorweeg.
“Wie van julle wat 'n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf. …Of watter koning wat met 'n ander koning in 'n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie?" (Lees Lukas 14:25-33)
Die wêreld sal 'n beter plek wees indien ons so direk en eerlik teenoor mense kan wees as wat Jesus was teenoor diegene wat Hom wou volg. In sommige gevalle het Hy selfs mense wat Hom wou volg, ontmoedig om dit te doen.
Aan 'n man wat gesê het: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet” het Jesus gesê: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” (Lukas 9:61-62)
Jesus verlang ons algehele en volkome getrouheid en toewyding. Niemand is waardig om sy dissipel te wees indien hulle liefde en toewyding aan Hom nie hulle eerste en belangrikste prioriteit is nie.
Uit elke geslag roep Jesus manne en vroue om die werk waarmee Hy hier op aarde begin het, voort te sit. Hy verlang toegewyde volgelinge wat sal verseker dat sy Kerk groei.
Hulle sal probleme ondervind, sommige meer as ander, so hulle moet eers die koste bereken, hulle moet die nadele oorweeg. Nie baie sal so ernstig getoets word as wat die geval met Paulus was nie; "Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop see deurgebring. Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers." (2 Korintiërs 11:24-26)
Alle Christene betaal egter op een of ander manier 'n prys indien hulle Christus eerste in hulle lewe stel. Soms is dit diegene wat die naaste aan hulle is wat hulle die slegste behandel. Jesus het egter 'n belofte, 'n woord van versekering, vir almal wat ly omdat hulle Hom dien.
Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het." (Openbaring 22:12)
Gebed: Hemelse Vader, gee deur u Heilige Gees aan my die moed om te alle tyde vas in my geloof te staan. Amen