Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 22 November

TEMA VAN DIE WEEK: HOOGTEPUNTE VAN DIE JAAR

Van die skrywer: Ek het goeie nuus en slegte nuus. Die slegte nuus is dat die A-Z reeks voorlopig Vrydag geëindig het. Ek skryf tot aan die einde van die week en dan weer in Februarie. Ek sal dus die orige letters van die alfabet in Februarie voltooi. Die goeie nuus is dat my boek, Ontdek God – in die stories van mense in die A-Z formaat geskryf is. Jy kan dus ander splinternuwe stories en karaktereienskappe van God in hierdie boek ontdek.

In hierdie week wil ek terugkyk na ’n paar hoogtepunte uit die verskillende reekse wat ek oor die afgelope jaar behandel het.

REEKS 1: HOE OF HOEKOM OM TE . . .

TEMA: HOE OM SIN TE MAAK UIT MOEILIKE SITUASIES?

Deur Benescke Janse van Rensburg

[AGTERGROND: Ná Vrydag se getuienis van Louis Brittz en sy vrou Hettie, het verskeie lesers vir my gevra hoekom God toegelaat het dat slegte goed met goeie mense gebeur. Hier is ’n gedagte wat jou dalk kan help.]

Job, Lasarus en Louis en Hettie Brittz. Wat het hierdie vier mense in gemeen?

Kom saam met my terug in tyd na waar Job vol swere op die ashoop sit. Hoewel hy eens die rykste man in die land van Us was, sit hy nou alleen. In een dag het hy al sewe seuns en drie dogters asook 7,000 stuks kleinvee, 3,000 kamele, 500 trekosse, 500 donkies en baie slawe verloor.

Kom nou saam met my na Martha en Maria se huis in Betanië. Kan jy die geween van die roubeklaers buite die huis hoor? Die mense het gekom om van Martha en Maria se broer Lasarus, wat ook ’n geliefde vriend van Jesus is, afskeid te kom neem. Dae vantevore het die susters aan Jesus ’n boodskap gestuur om dadelik te kom. Luister egter weer na Jesus se reaksie op die nuus: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Eers twee dae later vertrek Jesus en sy dissipels na Lasarus. Teen dié tyd het Lasarus reeds gesterf.

In Februarie vanjaar het inbrekers by Louis en Hettie Brittz se huis ingebreek. Hulle het ’n groot klomp toerusting geroof en een van die rowers het Hettie verkrag voordat hulle op die vlug geslaan het.

Nadat die nuus van die Brittz-gesin gebreek het, het ek heelwat e-posse van lesers ontvang met die vrae: “Hoekom het God dit toegelaat? Waar was Hy?” Ek is amper oortuig daarvan dat Job en Lasarus se vriende heel moontlik dieselfde vrae gehad het.

Blaai egter deur die boek van Job en jy sal vind dat Job nooit vir God gedurende sy tyd op die ashoop verwyt het nie. Job het aangehou om met God te kommunikeer. Só het hy God se karakter vir die eerste keer waarlik ontdek. Luister na Job se woorde in Job 42:5: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien...” Omdat Job die toets in sy lewe geslaag het, kon God in sy laaste gedeelte van sy lewe dubbeld van die rykdom, kinders en besittings wat hy eens gehad het, aan hom teruggee.

Op Martha se stelling aan Jesus dat Lasarus steeds sou leef as Hy net vroeër gekom het, het Jesus geantwoord: “Jou broer sal uit die dood uit opstaan.” Minute later, langs Lasarus se graf het Jesus deur sy trane boontoe gekyk en tot God vir ’n wonderwerk gebid. Hierna het Lasarus uit die graf gestap. In Johannes 11:45 lees ons: “Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.”

En in ’n onderhoud met Radiokansel kort na die gebeurtenis het Hettie haar ervaring as ’n “litteken” in ons geestelike oorlog (wat Jesus reeds oorwin het) beskryf. Haar woorde aan die einde van die onderhoud het my diep getref: “Na hierdie gebeurtenis sal ek nooit weer twyfel in God se vermoë om te red, te beskerm en te versorg nie!”

Hoekom is die Brittz-egpaar aangeval? Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat Louis en Hettie tot op hede in verskeie situasies was waarin hulle gesien het hoe mense (wat soms tot ’n dekade of meer met bitterheid en onvergifnis saamgeleef het), vry kom van hulle omstandighede wanneer hulle na die Brittz-egpaar se getuienis van vergifnis luister.

Jesaja 55:8-9: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Romeine 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Soms het ons nie al die antwoorde nie, maar God het. Niks kom ooit vir Hom as ’n verrassing nie. Hy bly oneindig lief vir ons en kan en wil ons deur swaar tye dra. Gaan jy dalk vandag deur ’n krisis? Onthou, Hy is reg langs jou en as jy aan Hom bly vashou sal Hy ook jou situasie ten goede laat meewerk. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat wanneer ek deur ’n dal van doodskaduwee gaan, U reg langs my is. Beskerm my asseblief vandag en help my om nie in vrees te leef nie, maar met my oë op U omdat ek weet dat U alles ten goede kan en wil laat meewerk. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

NUUSBROKKIES:

1.      BESTEL NOU: Jy kan Benescke se boek, Ontdek God in die stories van mense nou aanlyn by www.kalahari.net bestel. Jy behoort dit binne 4 werksdae te ontvang. Ideale Kersgeskenk.

2.      3 DAE OM TE GAAN. . . Moenie Benescke se boekbekendstelling op Donderdagaand, 25 November by die Wordsworth in die Willow Bridge Sentrum in Durbanville misloop nie. Dit begin 18:00 vir 18:30. Kom ontmoet haar en kry jou getekende kopie. Die boek, Ontdek God – in die stories van mense sal beskikbaar wees by CNA, PNA, Exclusive Books en Wordsworth.

VORIGE STUKKE? Kry van die vorige dagstukkies op ons webwerf, www.versndag.co.za.

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou onlangs of in die verlede deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. As dit aansluit by een van ons tema sal ons dit graag weer met die lesers wil deel. Dit kan oor enigiets wees. Dankie. Benescke

BORGSKAPPE/ ADVERTENSIES: As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 23 November Prev Next article: Vers n dag - 19 November Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.